2.02.2012 Eerste kultuurfees vir Outapi
Die Outapi dorpsraad is besig om reëlings te tref vir die dorp se eerste kultuurfees wat in Junie vanjaar gaan plaasvind.
In ’n onderhoud met die nuusagentskap Nampa het die OTC se hoof uitvoerende beampte, Oswin Namakula, gesê die fees, wat as die “Olufuko-fees” sal bekendstaan, sal heeltemal uniek wees. “Dit gaan uniek wees omdat dit egte tradisionele Oshiwambo troues sal vertoon, wat talle rituele insluit,” het hy gesê. Die fees sal egter ook ander Oshiwambo kulture en tradisies vertoon, insluitend kuns en kunsvlyt, asook landbou en kommersiële aktiwiteite.
Hy het gesê subkomitees is reeds besig met reëlings oor elektrisiteit, veiligheid, finansies en logistiek.
“Ons is van plan om ander dorpe te nooi om deel te neem en om ons fees te ondersteun,” het hy gesê.
Die fees, wat nog in ’n vroeë beplanningsfase is, sal na verwagting ’n jaarlikse instelling word.
Nampa
|