ENKELE maanda ná Laki Pappasani se dood, trou Pattie Peters met sy broer (sy noem hom “die man”). Hy lyk dan op ‘n naat na Laki en is so besorg oor haar dat sy nie anders kan as om aangetrokke tot hom te voel nie. Maar soos die dice val, is Laki se broer nie van dieselfde stoffasie nie. Gou reeds besef Pattie sy het ‘n groot, groot fout begaan.
Negentien jaar en vier kinders later, besluit Pattie vir die soveelste keer sy moet uit, weg uit hierdie huwelik wat haar tot in haar wese vernietig, maar waarnatoe? Hoe sal sy dit oorleef? En wat van haar vier juweelkinders vir wie sy so eindeloos lief is? Dié opvolg van Kroes lig die gordyn op só ‘n donker, tragiese lewe dat dit die leser sprakeloos laat. En die onderdrukking waaronder bruin en swart tydens die apartheidsjare ‘n bestaan moes maak (al kom dit teen 1994 op papier al tot ‘n einde) word amper nog skreiender as in Kroes uitgebeeld.
Dit is ‘n meevoerende roman, wat Stamatélos vestig as een van dié vertellers in Afrikaans. Pat Stamatélos is in Goodwood in die Kaap gebore. Na die dood van haar ma op agtjarige ouderdom gaan woon sy by haar tannies in die Strand. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Hottentots-Holland en drie jaar later verhuis sy na Johannesburg.
Deesdae woon Pat in Randfontein naby Krugersdorp. Haar debuutroman, Kroes, wat in 2005 verskyn het, is baie goed ontvang en verkoop steeds uitstekend. Die val van die dice is haar tweede roman. Die val van die dice (ISBN: 9780795702570) is deur Kwela vrygestel en kos N$125.