21.5.2012
 Argiewe:

Kollig


30 Bruidspare gekies


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

11.03.2010

Dans uit die boonste rakke


Johnny Bovang & Megan Swart
Classical Music Productions bied môre en Saterdag die verhoogstuk Dance… all night in die Nasionale Teater aan. Die choreografie word behartig deur Adele Blank van Kaapstad wat in 1979 haar buiging as choreograaf gemaak het.

In 1987 het sy die Free Flight Dance Company op die been gebring, wat destyds die enigste onafhanklike, professionele dansmaatskappy in Suid-Afrika was. Sedertdien het die maatskappy in elke groot venue en by elke fees in Suid- Afrika opgetree.

In 1992 het hulle ’n uitgebreide toer in Duitsland onderneem waarna uitnodigings na elders in Europa gevolg het. Sy het al gewerk aan meer as 70 professionele dansproduksies en musiekblyspele en saam met bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Wally Serote, Johnny Clegg, Sipho Hotstix Mabusa, Janice Honeyman en Sibongile Kumalo gewerk.

Carlos Cordoba
Dansers vir die twee aande is Devon Snell en Meagan Lottering, wat die wenners was in kykNet se dansprogram Die laaste wals (bal- en Latynse danse); Owen Manamela en Kristin Wilson (kontemporêre danse); Carlos Córdoba en Anita Ortiz (tradisionele Spaanse en Flamenco-danse); Johnny Bovang en Megan Swart (ballet); en Marc Goldberg van Kaapstad wat ’n solo-ballet en kontemporêre dans uitvoer.

Marc Goldberg het opleiding ontvang aan die Nasionale Kunsskool in Braamfontein. In 2001 het hy aangesluit by die Suid-Afrikaanse Balletteater en daarna vir Cape Town City Ballet begin dans. Op die oomblik is hy die hoofdanser vir Bovim Ballet. Hy het al gewerk saam met die Royal Ballet, Royal Danish Ballet, San Francisco Ballet, Dutch National Ballet, New York City Ballet, die nasionale balletmaatskappye van Kuba en Kanada asook die Alvin Ailey Amerikaanse dansteater.

Hy het in 2004 sy debuut as choreograaf gemaak. Anita Ortiz het op ouderdom 6 begin dans en kort daarna by die José Montoya Spaanse Dansskool in Pretoria aangesluit. Toe sy hoërskool toe is, het sy geweet Spaanse danse is haar forté en besluit om net daarop te konsentreer.

Anita Ortiz
Sy het haar eksamens geslaag en daarmee een van die eerste Spaanse dansers geword wat die Instructor de Baile-onderwyskwalifikasie van die Spaanse Dansvereniging in Suid-Afrika verwerf. Sy het in 1982 na Windhoek verhuis en haar eie dansskool hier begin, waarna verskeie dansproduksies gevolg het. Sy bespeel ook die Flamencokitaar.

Carlos Córdoba het in 1990 sy Flamenco-studies onder Anita Ortiz begin en het gou ’n hoofdanser in haar maatskappy geword. Hy het daarna onder José Montoya in Pretoria gestudeer en in 1997 saam met Anita na Madrid gereis om verdere opleiding te ontvang. Saam met Anita het hulle al opgetree op verhoë regoor Namibië.

Owen Manamela het sy opleiding by die Johannesburg Dance Foundation en die Jazz Art Dance Theater ontvang. Hy is professioneel opgelei in kontemporêre danse, Hip-hop, Pantsula & Kwaito, ballet en meer. Hy is ewe bedrewe as choreograaf. Kristin Wilson het in 2000 aan die Nasionale Kunsskool gematrikuleer en het van 1997 tot 2004 vir die Ballet Theatre African opgetree.

Sedertdien het sy al met verskeie Suid-Afrikaanse en internasionale maatskappye gewerk en gedans vir sangers soos The Parlotones, Bongo Muffin, Boom Shaka, Lira, Dozi en Nicholis Louw en internasionale sterre soos Lauryn Hill, Seal en Akon. Johnny Bovang is in Kristiansand, Noorweë gebore en het sy opleiding aan die Royal Ballet School in Londen ontvang.

Hy het in 1983 by PACT aangesluit en in 1997 Kaapstad toe verhuis waar hy tot op hede die hoofdanser is vir die Cape Town City Ballet. Hy spog met ’n uitvoerige repertoire wat werk insluit vir produksies soos Swan Lake, Giselle, Camille, The Sleeping Beauty, The Nutcracker, Spartacus en Hamlet. Megan Swart dans al vanaf agtjarige ouderdom.

Op 16 het sy by die Royal Ballet School in Londen aangesluit en daar aan verskeie produksies deelgeneem. Sy het in 1996 aangesluit by Cape Town City Ballet en is op die oomblik die maatskappy se senior hoofdanser. Devon Snell en Meagan Lottering dans al sedert 2001 saam.

Hulle het opleiding aan die Foxtrot Dance Studios in Kaapstad ontvang. Hulle was in 2005 finaliste in die Wêrelddanskampioenskap en in 2009 is hulle as die wenners by die All South African Ballroom Championships aangewys.

Kaartjies vir die produksie in die Nasionale Teater kos N$50, N$60 en N$70 en is by die Nasionale Teater (061 374 400) beskikbaar of skakel Cobus van Lill by 081 129 4828 vir meer inligting. First National Bank Namibia borg die produksie met N$50 000.