7.09.2006 Caring Man weer te sien
DIE Franco-Namibiese Kultuursentrum is die gasheer vir die opwindende en roerende uitstalling van foto's wat 'n meer sensitiewe sy van Namibiese mans uitbeeld: The Caring Namibian Man.
Dié versameling is reeds verskeie kere in Namibië uitgestal en het al in die streke Erongo, Kunene, Oshana en Ohangwene getoer. Dit het ook internasionale aandag uitgelok, met stories daaroor wat in Suid-Afrika verskyn het, en uitstallings daarvan in Nederland en meer onlangs by die internasionale konferensie oor MIV/vigs wat in Kanada plaasgevind het.
The Caring Namibian Man-projek is 'n inisiatief in reaksie op die beeld van Namibiese mans wat deesdae al hoe meer negatief in die media voorkom. Verhale van verkragting, moord, mishandeling en ander wreedhede wat deur mans gepleeg word, kom op tragiese wyse al hoe meer na vore.
Tog is daar 'n ander sy tot die verhaal: dié van harde werk, opoffering en liefde.
Ten einde die negatiewe beeld in iets positief te omskep en te bewys dat daar tog sorgsame mans in die Namibiese samelewing is, het die Ombetja Yehinga-organisasie (OYO) verlede jaar 'n fotografieprojek geloods.
In Julie 2005 is assistente van OYO, vrywilligers van VSO en vennote van laasgenoemde genooi om aan 'n slypskool deel te neem waarin hulle meer geleer is oor geslag, manlikheid en basiese fotografie. Ná afloop van die slypskool is elkeen terug na hul werkplekke om jong mans daar op te lei. Weggooibare kameras is aan elkeen gegee om 'n fotobeeld van hul werk mee te skep.
Hieruit is 'n versameling van 49 foto's saamgestel en is die eerste in 'n reeks uitstallings in November deur die Minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste geopen. Intussen is ook 'n kalender gedruk en versprei.
Die uitstalling het gisteraand by die FNCC geopen as deel van die Bank Windhoek Kunstefees. Dit kan tot 27 September besigtig word.
|