Die Cantare Audire-koor onder leiding van Ernst van Biljon, en in samewerking met die Duitse kitaarspeler Ulrich Busch (foto), bied môre ’n konsert propvol klassieke en romantiese Spaanse musiek in Swakopmund aan. Die hoofwerk op die program is “Romancero Gitaro” deur Mario Castelnuovo- Tedesco.
Die stuk is in 1951 vir die koor en kitaar gekomponeer en is gegrond op die gedigte van die Spaanse digter en dramaturg, Frederico Garcia Lorca (1898 tot 1936), wat ook ’n bekende skilder en komponis was. Castelnuovo-Tedesco (1895 tot 1968) was ’n Italiaanse komponis wat in Florence gebore is.
By 1932 se Internasionale Vereniging vir Kontemporêre Musiekfees wat in Venesië gehou was, het Castelnuovo-Tedesco vir die Spaanse kitaarspeler Andrés Sergovia ontmoet. Dit het Castelnuovo-Tedesco geïnspireer om sy Kitaar Concerto nr. 1 te skryf, die eerste van bykans ’n honderd komposisies vir die instrument, wat van hom een van die voorste komponiste vir die kitaar in die twintigste eeu gemaak het.
Kort voor die Tweede Wêreldoorlog, het Castelnuovo-Tedesco Italië verlaat, en soos talle kunstenaars wat fascisme ontvlug het, in Hollywood geëindig waar hy met die hulp van Jascha Heifetz ’n kontrak met Metro-Godwyn-Mayer as filmkomponis losgeslaan het. In die daaropvolgende 15 jaar het hy aan die agtergrondmusiek van sowat 200 films gewerk. Hy het ook ’n noemenswaardige invloed gehad op ander filmkomponiste, insluitend Henry Mancini, Jerry Goldsmith, Nelson Riddle, Herman Stein, John Williams en André Previn.
Sy verhouding met Hollywood was egter dubbelsinnig: later in sy lewe het hy die invloed wat dit op sy werk gehad het, probeer ontken hoewel hy ook geglo het dit was ’n essensiële Amerikaanse kunsvorm, soos wat opera baie Europees was. Die “Romancero Gitaro” bestaan uit sewe stukkie, naamlik Little Ballad of the Three Rivers, The Guitar, The Dagger, The procession, Memento, Dance en Crótalo.
Die konsert vind om 20:00 in die Namib Primêre Skool Kultuuraula plaas en kaartjies kos N$50, N$20 vir kinders, en kinders onder 12 is gratis (maksimum van twee kinders per gesin). Kaartjies is vooraf by Die Muschel te koop, maar sal ook by die deure beskikbaar wees.