11.03.2010 CAN en Unam sluit vennootskap
 Hier is van Unam se dramastudente wat deelneem aan die teaterloodsprojek.
Committed Artists of Namibia (CAN) het pas ’n nuwe teaterloodsprojek van stapel gestuur saam met die Uitvoerende Kunsdepartement van Unam in sy pogings om akademiese en gemeenskapsteater te konsolideer.
Die ontwikkeling in die teaterbedryf is aangekondig deur CAN se sekretaresse, Felicity Celento. “Ons sien hierdie as baanbrekerswerk vir Namibiese teaterontwikkeling. Te lank al was inrigtings- en gemeenskapsteater so te sê in totale afsondering, wat ’n gepolariseerde situasie meegebring het. Ons dink dis nou die tyd dat ons pogings erken word en kollektief tot voordeel van die land geïmplementeer word,” volgens Celento.
“In die afgelope 20 jaar het talle van Unam se dramastudente gegradueer, maar meeste van hulle is vandag verlore vir die teaterbedryf. Meeste studente gee nou klasse of werk in ander beroepe. Hulle beoefen selde die teatervaardighede wat hulle geleer het en dit is werklik ’n benarde situasie vir die bedryf,” het sy gesê CAN het in die afgelope 20 jaar baie noue kontak met Unam se dramadepartement geniet.
“Van ons akteurs het verhoogstukke vir Unam aangebied en dosente het deur die jare heen as beoordelaars vir CAN se jaarlikse opvoedkundige jeugteaterfees opgetree. Studente het ook al gespesialiseerde teaterberigte oor CAN se akteurs en regisseurs geskryf as deel van navorsing en studies. Dus was daar al ’n simbiotiese verhouding tussen ons en hulle,” sê Celento.
Die doel van die nuwe projek is om nuwe vorms van teaterprogramme uit te brei en toe te pas. “Studente kan net daarby baat as hulle informele teatervaardighede vanuit ’n gemeenskapsoogpunt beleef. Dit sal hul loopbaan aanvul en hulle voorberei vir die dag wanneer hulle studies voltooi is. Dit kan weer om die beurt die Namibiese teaterbedryf aanvul.”
Die projek, wat dien as praktiese teaterwerk wat punte vir die studente sal besorg, begin met die aanbieding van die produksie The Blood Brother in September vanjaar.
“Formele oudisies vir die vigsverhoogstuk het reeds begin. Studente sal daarna plekke vul as akteurs, tegnici en assistent-regisseurs. Ons is baie optimisties dat CAN ’n positiewe bydrae kan lewer tot tersiêre opvoedkundige teaterontwikkeling by Unam en in die breër gemeenskap,” sê Celento.
• The Blood Brother word op 17 en 18 September aangebied as deel van CAN se jaarlikse teaterfees by die Ultimate Theatre (by die Hoërskool Eldorado) in Khomasdal.
|