2.09.2010 Camelthorns wys vanaand by FNCC
Die Namibiese regisseur en skrywer Tanya Detering het vroeër vanjaar na Namibië teruggekeer nadat sy twee jaar in New York deurgebring het. Hier was sy nou by die rolprentbedryf betrokke. Terug op eie bodem het sy haar eerste plaaslike kortrolprent Camelthorns voltooi, wat ’n voorloper is van ’n vollengte rolprent wat in 2011 verfilm sal word.
Die uitvoerende vervaardiger is die Hollywood regisseur en vervaardiger, Doug Liman, wat bekend is vir sy werk in rolprente soos Mr & Mrs Smith en The Bourne Identity. Camelthorns spog met ’n verskeidenheid nuwe gesigte en talent, met die hoofrolle wat deur Nicole Davidow (Marie), Klara Mudge (Jessica) en Ruan Greef (André) vertolk word.
Al die karakters vertoon sterk en uiteenlopende persoonlikhede wat die storielyn van kulturele verskille en verhoudings tussen mense op meesterlike wyse uitbeeld. Die bekende plaaslike komediant Armas Shivute speel ook ’n noemenswaardige rol, terwyl ondersteunende rolle deur Samuel Kapepo, Johannes Kamati en Nghishy Muniaro gespeel word.
Camelthorns handel oor twee meisies, Marie en Jessica, wat hulself in ’n bedreigde en lewensveranderende situasie bevind. Hul moed en krag word tot die uiterste beproef, maar tog oorwin hul vriendskap. Die geselskap en die werkspan bestaan uit Namibiërs en skietwerk is in Namibië se wonderlike skoonheid gedoen.
Camelthorns is vervaardig deur Genevieve Detering en Nicole Davidow en mede-vervaardig deur Alison Li wat in New York woon. Op plaaslike front is Camelthorns vervaardig in samewerking met Media Logistics Namibia, ’n rolprentproduksiemaatskappy wat deur Michaela Bauer en Oshosheni Hiveluah bestuur word. Die skietwerk is deur Horst Zaire gedoen terwyl Audioart se Wojtek Majewski vir die klankontwerp gesorg het.
Kunsregie is deur Nicci Wilson behartig. Camelthorns beloof om kykers op ’n emosionele tuimeltrein te neem. Die rolprent is reeds in Julie vanjaar by die L.A. Cinema Festival of Hollywood vertoon en is as een van die nominasies van die Merit Toekennings se kortverhaal- afdeling gelys.
Ander bevestigde vertonings sluit in die Internasionale Rolprentfees in Dargle, Kwazulu-Natal in Suid-Afrika in November vanjaar en die Swansea Bay Rolprentftfees in Wallis in Mei volgende jaar. Dit word vanaand om sesuur by die Franco-Namibiese Kultuursentrum vertoon (FNCC).
|