Die anterior kruisligament is ’n struktuur wat dikwels genoem word by die meer ernstige kniebeserings op die sportveld. Die anterior kruisligament is een van vier hoof stabiliserende ligamente van die knie wat onder meer die posterior kruisligament, mediale kollaterale ligament en die laterale kollaterale ligament insluit.
Sy funksie is om te keer dat die onderbeen (tibia) vorentoe op die bobeen (femur) beweeg. Die besering behels die algehele of gedeeltelike skeuring van die anterior kruisligament met bewegings waar die sportman se voet vas op die grond geplant is met ’n inwaartse beweging van die knie asook ’n draai-aksie van die bobeen op die onderbeen.
Biokinetiese finale fase rehabilitasie kom ter sprake nadat die pasiënt chirurgie ondergaan het en die knie genoegsame beweging het na afloop van fisioterapie. Pasiënte kan so vroeg as vier tot ses weke nadat die kruisligament herstel het, met biokinetika waterterapie asook ander versterkende oefeninge begin.
Biokinetika fokus op die versterking van die kwadriseps, agterdyspiere en ander hoofspiergroepe wat die knie ondersteun deur middel van stapsgewyse, doelgerigte rehabilitasie.
Behalwe spierkrag van alle betrokke spiergroepe, moet balans, soepelheid en funksionele gereedheid vir die sportveld ten volle herstel word voordat die sportman/vrou weer kan deelneem.
Indien jy nie finale fase rehabilitasie ondergaan nie en spiergroepe nie getoets word om vas te stel of daar oorblywende wanbalanse is nie, is ’n nuwe besering baie waarskynlik. Vir professionele raad en toetsing ná sportbeserings, kontak gerus jou naaste biokinetikus.