Resensie deur Chrisna Beuke-Muir
1. Voorblad en inleidende opmerkings
‘n Vinnige blik op die voorblad van Piet van Rooyen se nuutste boek, Etosha ‘n roman maak die skrywersintensie duidelik. “Wie is werklik reg, wat is geregverdig in die stryd om oorlewing?”, lui die subtitel in die linkerkantste boonste hoek. Die agtergrond is veldbruin met rooi bloedspatsels en die silhoeët van ‘n doringboom het dieselfde bloedrooi kleur, terwyl die swart AK-47 loodreg van bo tot onder (oor die volle lengte van die boek) die titel kruis. Oor alles heen hang die skaduwee van ‘n renosterhoring, ‘n simbool van Afrika en die onskuldige wortel van alle kwaad. Met hierdie roman bedoel Van Rooyen sake. Onregte uit die verlede word belig vanuit die perspektief van die witman in die vorm van ‘n verslag (twintig jaar ná onafhanklikheid in 1990) wat die rimpelings weerspieël van gebeure in die eerste jare kort nadat Namibië onafhanklik geword het. Die politieke soustrein is besig om spoed op te tel en die laaste wit hindernisse moet uit die weg geruim word. En hierdie operasie skoonmaak word gewreek.
2. ‘n Moordverhaal met Afrika-reëls
Twee moorde word gepleeg en nog een word beplan, maar laasgenoemde moord misluk, en die agtervolger word slagoffer. Die eerste grusame moord op die Himba-leier Vetamunua Tjambiro sou as die eksposisie van die roman beskou kon word, terwyl die tweede moord op die broer (Oscar Angula) van een van die ministers as ‘n belangrike handelingsgebeure beskou kan word. Hierdie mislukte aanval beeld ‘n simultane klimaks en afloop uit waarin hoofkarakter Karel Fechter en die meeste van die APU’s onder die koeëlreën van die president se soldate sterf.
Toeval speel nie ‘n rol in hierdie roman nie en dit blyk dat Van Rooyen deeglik navorsing gedoen het. Vir elke moord is die motief anders: die APU’s as teenwilddief-eenheid (onder Karel se verantwoordelikheid as Parkhoof van Etosha) neem reg in eie hande as hulle die wilddief Veta (kort vir Vetamunua) wat ‘n renoster doodgemaak het en sy horing uitgeslag het, betrap, sy ore afsny en wreedaardig aan ‘n boom ophang. Weke daarna ontdek Justus (later in sy hoedanigheid as regeringsamptenaar word hy Justice), die seun van Veta, sy pa se lyk. Wraak sal geneem word.
Ook die moord op Angula - ook aan die hand van die APU’s - vind plaas uit weerwraak omdat die nuwe regering die APU’s oorbodig verklaar, hul van hul taak as teenwilddiefeenheid onthef, en hulle vervang met ander manne (meer lojaal aan die regering) onder die hoofskap van ‘n broer van Minister Nahas Angula. Ná die APU’s se ontslag is hulle geneem na ‘n stuk grond waar hulle self ‘n bestaan moes maak. As oud-soldate raak hulle gefrustreerd, en as gevolg van honger en dors, maar veral vanweë hul ledigheid en die feit dat hulle nie iets het om te doen “wat sal saak maak” nie (290), word die laaste moord op die “groot tokkelos” (290) beplan. Dié misluk omdat Justice met die tipiese geduld van die Afrika-jagter op die APU’s se spore gebly het en die moordkomplot aangemeld het by Nasionale Intelligensie waar hy as amptenaar werksaam is.
Elkeen van die moorde het ‘n diepgaander motief waardeur Van Rooyen perspektief plaas op regverdigheid en reg in die Afrika-konteks waar ánder reëls geld: die reëls van ‘n “natuurlike regverdigheid … die regverdigheid van die roofdier. Die natuur dra geen wrok nie, maar gee ook geen genade nie. En die wilddiewe ken hierdie soort moraliteit. Daar is geen sprake van ‘n onkunde van die wet nie” (107). Veta slag die renosterhoring uit, en
Hierdie keer moes die jag nie net vleis inbring vir van dag se eet, vir môre se bietjie opgegaarde biltong nie. Hy het hierdie stuk horing gaan haal om die toekoms mee oop te maak. Hy het vas geglo dat hy dit hiermee sou kon doen, met hierdie jag … Dis sy eersgebore seun, sy eie Ndipua, sy Justus-kind s’n, sy geleerdheid, sy toekoms, wat hy hier in sy hande hou. (32, 30)
Rituele maak die wet van die natuur vas:
Al hulle regte op die grond is vasgemaak deur die ou rituele wat die wetlikheid van hulle aansprake oor en oor bevestig het. Die rituele praktyke van die voorvaders, die manier waarop die grafte vereer word, het hierdie land hulle s’n, ons s’n, gemaak. (81)
Daarom bid Fabianus by die Grootboom in Oshakati voordat hy die moord pleeg (170), en daarom kamofleer die APU’s hulle voor ‘n konfrontasie, “om met die bosse saam te smelt, een te word met die blare en die grond” (293).
Die motto ná die titelblad betrek ‘n ritueel uit die Skotse kultuur waaroor Mentoor onheilspellend vir Karel Fechter inlig oor die oorsprong van die woord beserk (“beerhemp”): die ou krygsmanne het hemde van beervel gedra en tydens die geveg soos bere geword, en hulle verstand is in die proses aangetas. Die bebloede beerhemp is oor die soldaat se graf gegooi en van son en wind hard geword. Die motto (‘n aanhaling van Robert Henryson, 1425 – 1500) word ‘n vooruitwysing na die dood van die hoofkarakter en is gerig tot Olivia wat ná Karel so dood met sy ongebore kind agterbly: “’Fair lady, now mone I … Take ye me serk that is bludy; And hing it furrow yow …”
Wanneer Karel en Olivia later by die APU’s vir blyplek en beskerming aanklop, moet ‘n ritueel voltrek word: Karel moet drie toetse deurloop om te bewys dat hy en Olivia waardig is om aan die groep te behoort. In hierdie beskrywing (Hoofstuk 53) bewys Van Rooyen hom as meester van die woord wat wýs en nie net vertel nie.
3. Objektiwiteit ter wille van die historiese in die roman
3.1 Inleidend
In verslaggewing-styl word beide kante se saak gestel wat ‘n vertellersperspektief tot stand bring wat waarskynlik die effektiefste manier is om ‘n gevoel van objektiwiteit by die leser te skep. Die effektiwiteit van die APU’s wat die vuilwerk moet doen toe lede van die Heikum nie die toeriste by die hek wou inlaat nie (Hoofstuk 17), word uitgebeeld in teenstelling met die “manne met die breë glimlagte en die boepense … (wat) die toeriste trakteer” (116). Onderlinge haat tussen die Herero’s en die Himbas (40), die regering se onverdraagsaamheid teenoor die APU as eks-Koevoet- en Unita-lede en SWAPO se aandadigheid aan die ondermyning van natuurbewaring (60) word openbaar gemaak. Tog ervaar Karel begrip vir sy teenhangers tydens die olifantjag toe hulle in die geselskap van die president die gestorwe Plan-vegters se onindrukwekkende monument besoek:
‘n Gevoel van jammerte vir die dooies wat hier gevalle lê … Hy kan hierdie skielike hartseer nie verklaar nie; dis tog nie sy mense nie. Dalk is dit oor die posisie waarin hy homself op die oomblik bevind. ‘n man aan die kortste end van die saak. (191)
3.2 Identiteit
Die ingewikkelde kwessie van identiteit word (soos in Van Rooyen se vorige romans) aangespreek. Die politieke party waaraan jy behoort, bepaal jou identiteit, en die politikus Rooi Koos het van sy Afrikaner-identiteit afstand gedoen deur by SWAPO aan te sluit, want “(a)s die soustrein loop, moet die passasiers skep terwyl daar kans is” (116). Ook die APU’s moet ‘n nuwe identiteit aanleer in ‘n “nuwe land” (114) waar hulle nie meer soldate is nie, maar bloot amptenare. Karel het hulle verbied om hulle gevegsname te gebruik en elkeen moes weer gewoond raak aan sy regte naam. Die Boesmans, “’Die Skadelose Mense’” (115) moet hulle ou identiteit as grondbesitters van voorvaderlike jaggebiede aflê.
Die paradoksale posisie van die witman in Afrika word uitgebeeld in Karel enersyds, en die Italiaanse buitelander, Vito Palazollo andersyds. Karel verteenwoordig die gevestigde wit inwoners van die land wat die infrastruktuur aan die gang moet hou, maar uitgestoot word deur die regering van die dag as gevolg van die “AA-swaard” (121) wat oor hulle koppe hang. Hierdie groep word die teiken vir die haat-uitsprake van die president (145). Palazollo (en ook die Belge van Epacha) ry saam op die soustrein, afhangende van sy verhouding met die regering. Op sy twintigduisend hektaar plaas het Vito “geen gewetenswroeging oor die manier waarop hy sy geld gemaak het nie. In besigheid is alles jou geoorloof. Dis maar soos dinge werk, ander waardes geld as vir die gewone man” (136).
Hy het ‘n groot skenking gemaak vir die vryheidstryd; die president reeds in sy exile-dae geïdentifiseer as toekomstige leier, sy geld op die regte perd gesit. Gelukkig dat hy daardie dag vir Lubowski in Switserland raakgeloop het, ‘n suiwer geval van serendipity, soos die gode dit wil hê. (141).
Vito Palazollo en die Belge van Epacha (karakters in die roman) bestaan in die werklikheid.
Die belangrikste karakters wat die minderheidsgroepe in die roman verteenwoordig, is die wit Karel en Olivia, die polities-uitgeworpe APU’s, en die Boesmans wat vandag nog in die werklike lewe rondgeslinger word tussen wie hulle ookal op enige stadium vir watter rede ookal wil gebruik of misbruik. Soos in Van Rooyen se vorige Afrika-romans is die hoofkarakters (Karel, Olivia en Justus) in Etosha ‘n roman alleenlopers wat hunker na Afrika, en wat die bagasie van die beskawing wil afskud en as uitgestotenes by mekaar aanklank vind (109).
3.3 Feit en fiksie
Soos in die geval van ‘n historiese roman wat ‘n mengsel van feit en fiksie is, is genoeg herkenbare gegewens in Van Rooyen se teks aanwesig wat die politiek van die dag in die eerste jare ná Onafhanklikheid ondervang. Daar word byvoorbeeld dikwels verwys na dié foto van die glimlaggende president met die wit tande en die wollerige grys baard wat vandag nog in die werklike lewe orals in openbare plekke dwarsoor Namibië te sien is, en vir byna alle geleenthede (op plakkate aan ligpale en in koerante) aangewend word.
Verder is die verhaal geskoei op die lewe van Kallie Venzke , die destydse Parkhoof van Etosha wat uit sy pos ontslaan is as gevolg van regstellende aksies. Die moord op die ‘n Himba-man wat ‘n renoster geskiet het, is fiksie, en het waarskynlik sy oorsprong in die feit dat Kallie Venzke op ‘n stadium aangekla is van ‘n moord op ‘n man wat homself opgehang het (sien eindnota iii). Die saak is uitgegooi. Feit is die vliegtuigrit van Karel met Fabianus en nog ‘n lid van die APU’s na Oshakati, die siek familielid en die skietvootval waarin Oscar Angula (in die werklike lewe was dit John Angula, broer van minister Nahas Angula) dood is. Fiksie is die laaste gedeelte van die roman: die APU’s se uitwyking na Plaas Scott, Karel se opsluiting in die stoor en die aanslag op die president se lewe.
Ooreenkomste tussen Kallie Venzke se lewensverhaal en dit wat met die karakter Karel Fechter gebeur het, is volop: hy is onder druk geplaas deur mede-kollegas in die Park, soortgelyk aan die insidente met die Mentoor-karakter in die roman.
Van Rooyen het as lid van die NNF (Namibian Nature Foundation ) vir Venzke leer ken aan die einde van die neëntiger jare ná laasgenoemde se bedanking as Parkhoof . Van Rooyen het hom genader en gevra of hy ‘n boek oor sy lewe kan skryf, en hy het ingestem. Daarna het hulle baie min kontak gehad, en ‘n jaar of tien gelede het Van Rooyen die eerste werksdokument vir Venzke gestuur. (Die eerste werkstitel was Bloedklip, en die een daarna was APU.)
Uit die onderhoud met Venzke het dit duidelik geblyk dat ‘n prys betaal word as jou storie vertel word; dit gaan nie sonder pyn en hartseer gepaard nie. Hy was opnuut geskok oor die gebeure, en skryf dit onder andere toe aan dat die feit dat hy reeds drie keer deur dieselfde pynlike proses gegaan het: eers sy bedanking uit die gesogte pos as Parkhoof wat hy met passie uitgeleef het, daarna die hofsaak, gevolg deur nog ‘n hofsaak teen die NBC waarin hy hulle vir naamskending gedagvaar het. Tog voel hy dat hy met die verskyning van hierdie boek ‘n sekere hoofstuk in sy lewe kan afsluit.
Dit bevestig Brink (1989: 35) se mening dat die verhaalkuns ‘n reaksie is op die mens se behoefte om die wêreld te orden en om binne-in daardie wêreld ‘n vastepunt te kry. Ter illustrasie haal hy Wicker aan wat sê dat die wêreld self “story-shaped” is en dat die mens fiksie maak omdat hy fiksie is.
4. Vertelstyl
Hoewel die verslaggewing-vertelstyl in ‘n historiese roman ‘n effektiewe manier is om ‘n gevoel van objektiwiteit by die leser te skep, loop Van Rooyen soms die gevaar om in ‘n eentonige trant te verval waarin die leser nie veel betrek word nie. Die wisselende fokalisering deurdat die verhaal uit meer as een gesigspunt vertel word, vergoed egter hiervoor. Meestel is Karel die fokaliseerder, maar soms ook Olivia en Justice (en in ‘n enkele geval, Justice se pa, Veta), asook Vito Palazollo.
Soos in Van Rooyen se vorige romans is die derdepersoonsverteller aan die woord (hoewel nie noodwendig alwetend en alomteenwoordig nie) om die gebeure uit die verlede belig. Daar word vanuit ‘n baie breë perspektief op ‘n onbevooroordeelde en eenselwige wyse oor alles en almal heen gekyk tydens die vertelling, en die verteller moet sy vertelling as’t ware ontwerp en gedurig konstrueer. Die verteller is egter ‘n ingewyde wat oor tyd en ruimte heen vertel en vir die leser ‘n betroubare instansie word.
5. Slot
Drie menskarakters verkry in hierdie roman reliëf en dit is veral die versoening tussen die Justice-karakter en Karel wat die menslikheidsaspek van die verhaal belig. Onwetend van die werklike omstandighede waaronder sy pa vermoor is, maak Justice jag op Karel, en as Karel dan aan sy hand sterf, blyk daar tog ‘n element van versoening tussen hulle te wees omdat hulle albei aan hierdie stuk aarde behoort: “Die jong man buk oor Karel. Karel kyk deur die newels na bo. Hy steek sy hand uit en raak aan sy arm. Justice laat hom dit welgeval” (302).
Bibliografie
Brink, André P. 1989. Vertelkunde: ‘n inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica.
(i) Die “Anti-poaching Unit”, bestaande uit oud-soldate van die vorige Apartheidsregering en die uitgeweke Angolese Unita contingent
(ii) “Die mense het dit ook ‘n lykverslinder genoem, omdat hulle geglo het dat die beerhemp, vol krygswoede nog, die lyk stadigaan opvreet tot net die bene oorbly” (126).
(iii) Tydens ‘n onderhoud met Kallie Venzke wat gereël is deur Ronelle Rademeyer van die Afrikaanse dagblad Republikein, en deur Chrisna Beuke-Muir en Rademeyer met Venzke gevoer is, het Venzke sy lewe kortliks geskets.
(iv) Venzke het vriende het een aand vir ‘n braaivleis op sy dogter se verjaarsdag in sy huis in Etosha, ontvang en die geselligheid is onderbreek toe twee van sy kollegas van die Park gekom het en versoek het dat Venzke se gaste die Park moet verlaat. Dit is opgevolg deur ‘n valse beskuldiging dat hulle hom betrap het dat hy gewere uit die kluis gedra het om aan sy vriende te oorhandig. Hulle wou hom in hegtenis geneem het, en die destydse minister van natuurbewaring het nie die moeite gedoen om hom van die ware feite (dat Venzke nie tot die kluis se sleutels toegang gehad het nie) te vergewis nie. Venzke se naam is beswadder.
Venzke, ‘n gebore Namibiër (Okahandja, 1957) het in 1980 in Etosha as jong natuurbewaarder begin werk. In 1983 is hy aangestel as Senior Beampte in Otjiwarongo vir ‘n tydperk van drie jaar, waarna hy vir ‘n terugplasing na Etosha gevra het. In 1993 word hy Parkhoof van Etosha en staan in die betrekking tot 17 Oktober 1997 toe hy oornag veplaas is na Windhoek. Dit het tot sy bedanking gelei. In die tussentyd het hy geboer, hoewel hy vanweë die droogte die meeste van sy diere moes verkoop. Vandag het hy ‘n suksesvolle wildvang-agentskap en hy en sy vrou bly op die plaas Moltkeblick naby Windhoek. Hy is van sy eerste vrou geskei en het saam met haar twee dogters gehad, en is vandag ‘n oupa.
(v) Venzke het fondse vir natuurbewaring gewerf en dit deur die NNF gekanaliseer.
(vi) Wicker, Brian. 1975. The story-shaped world. London: Athlone Press.