Met die Olimpiese Spele minder as drie weke weg, het Beijing die gebruik van motors en fabriekuitlatings begin beperk in ’n drastiese laaste-oomblik poging om sy lug ietwat te suiwer. As deel van die stad se twee-maand plan, sal helfte van die Chinese hoofstad se 3,3 miljoen motors op alternatiewe dae van strate verwyder word, afhangende van die nommer waarop motors se nommerplate eindig.
Die lug was verlede Sondag relatief skoon, met verkeer wat ligter was. Maar die grootste toets is altyd tydens die werksweek. Bo en behalwe die vervoerplan, moes fabrieke, kragstasies en smelterye teen Sondag hul vrylatings met 30 persent verminder.

Hierdie gekombineerde foto wys die afname in verkeer uit na die bekendstelling van vervoer beheermaatreëls in Beijing.
Konstruksiewerk waar baie stof genereer word, moes heeltemal staak. Terwyl die regering hoop om motorgasuitlatings – een van Beijing se grootste bronne van besoedeling – te verminder, is dit onduidelik hoe die doeltreffendheid van die plan gemeet gaan word aangesien die regering nie sy teikens vir vrylatingsvlakke aangekondig het nie.
China se grootste uitdaging is om die stad se lug skoon te kry vir die Spele wat op 8 Augustus begin en tot 24 Augustus duur. Instede van ’n mooi blou hemel, is Beijing se lug gewoonlik in ’n grys waas gehul. Verskeie deelnemers het reeds besluit om buite Beijing te oefen, en die Internasionale Olimpiese Komitee president, Jacques Rogge, het gesę dat buitelug sportsoorte wat langer as ’n uur duur, uitgestel gaan word as luggehalte swak is. Die regering het openbare vervoeropsies aansienlik verbeter vir die nagenoeg viermiljoen ekstra mense wat weens die vervoerplan nie van die paaie gebruik sal maak nie.