
Hans-Peter Drobisch, Gretel Coetzee en Jürgen Kriess neem eersdaags deel aan ’n konsert met die musiek van J.S. Bach.
Eersdaags word Windhoekers bederf met ’n keur uit die werke van J.S. Bach wanneer die Namibiese Kamerensemble die Brandenburgkonserte nr. 4 en 5, die vioolkonsert in E majeur asook die Koffiekantate aanbied. Vir die geleentheid span verskeie soliste saam, naamlik Jürgen Kriess (viool), Hans-Peter Drobisch (fluit), Johanita de Waal en Cordula Müller (blokfluit), Cordula Weiss (klawesimbel), Gretel Coetzee (sopraan), Patrick Klaaste (tenoor) en Dawid Kimberg (bariton).
Al die spelers is van Windhoek behalwe Dawid Kimberg, wat tans in Londen groot opgang maak. Hy het onlangs in die Royal Albert Hall gedebuteer in die rol van die graaf in Le nozze di Figaro. Die konserte word moontlik gemaak met die ondersteuning van M&Z Motors en Mercedes Benz.
Die ondernemings stel die toekoms van musiek in Namibië hoog op prys, en het dus die geleentheid aangegryp om as hoofborge betrokke te raak. Die konserte vind op Vrydag 8 en Saterdag 9 Augustus om 19:00 in die Christuskirche plaas. Kaartjies kos N$60 en N$30 vir kinders en pensioenarisse en is by dr. M. Kimberg se spreekkamers in Akwamarynstraat, Eros (agter Medi-Clinic), of by die deure te koop.