Avontuurtoerisme

Berge afseil, fietsry en vrywillige werk verrig in vakansietye raak al hoe meer gewild. Avontuurtoerisme, wat in die verlede net deur ’n minderheidsgroep waaghalsiges oorweeg is, word al hoe meer alledaags, met toeriste wat hulself met ’n rits alternatiewe vakansiekeuses besig hou.

Die avonturiers is jonk, redelik welgesteld en het verlede jaar sowat US$89 miljard – uitsluitend die koste van vlugte en toerusting – op hul vakansies bestee, volgens ’n studie deur navorsers verbonde aan die George Washington Besigheidskool.

Volgens die navorsers is daar baie mense wat graag met hul hande wil werk, betrokke wil wees by ’n spesifieke kultuurgroep en ’n meer oorspronklike vakansie-ervaring wil hê. Die studie is deur die Adventure Travel Trade Association onderneem.
Die navorsers het 850 reisigers van Noord- en Suid-Amerika en Europa ondervra aangesien 70 persent van internasionale reisigers vanaf hierdie streke afkomstig is. Lande met die meeste reisigers is van Amerika, Argentinië, Brasilië, Engeland, Duitsland en Spanje.

Hoewel algehele toerismesyfers volgens die Verenigde Nasies se Wêreldtoerisme-organisasie (UNWTO) verlede jaar met bykans ses persent gedaal het, het die studie daarop gedui dat wanneer mense reis, hulle deesdae meer geneig is om by fisiese aktiwiteite betrokke te raak, wat ’n nuwe inkomstebasis vir toeroperateurs bied.

Gegrond op hul bevindings en data van die UNWTO, verwag die navorsers dat sowat 150 miljoen avontuurreise volgende jaar onderneem sal word. Volgens die navorsers bestaan ’n persepsie dat die avontuur-toerismemark ’n baie beperkte groep mense is wat riskante aktiwiteite aanpak.

Die werklikheid is egter dat dit ’n veel breër mark is as wat enigiemand kon dink en dat hulle bereid is om baie geld daarop te bestee. Die tipiese avontuurreisiger was gemiddeld 36 jaar oud, het tussen N$3 000 en N$6 000 per vakansie bestee (uitgesluit vlugte) en het oor ’n paspoort beskik, het die navorsers bevind.

Die grootste bron van nuus vir avontuurtoeriste was hul plaaslike koerante en inligting wat op Google en Facebook gevind is.

Kategorie: