ATKV-Crescendo slaan nuwe musikale rigting in

DIE ATKV nooi amateur liedjieskrywers van alle ouderdomme om deel te neem aan 'n unieke liedjieskryfkompetisie, ATKV-CrescendoKreatief.
ATKV-Crescendo is reeds jare lank 'n huishoudelike naam in die Afrikaanse musiekwêreld as 'n gewilde sangkompetisie. ATKV-Crescendo het egter vanjaar 'n nuwe baadjie aangetrek en word nou 'n kompetisie vir liedjieskrywers.
Amateur liedjieskrywers kan hul nuutgeskrewe werke, opgeneem op 'n CD, aan die ATKV stuur. Teen die einde van Augustus word die inskrywings deur 'n paneel onder leiding van Lize Beekman beoordeel.
Die tien beste liedjieskrywers word genooi om op die ATKV se koste aan 'n ligteliedjie-slypskool by die ATKV-Klein-Karibavakansieoord net buite Bela Bela (Warmbad) in Limpopo deel te neem. Hierdie slypskool is 'n praktiese kursus waartydens die skryf van musiek en liriek ontwikkel en geslyp word en sal ook deur vanjaar se Top10 Afrikaanse Idols bygewoon word.
Aan die einde van die slypskool word die wenliedjie uit hierdie slypskooldeelnemers aangewys. Boonop kry die wenner die kans om 'n internasionale liedjieskryfskool ter waarde van N$50 000 by te woon.
Daar word ook 'n openbare konsert vir die einde van Desember beplan waartydens materiaal uit die slypskool uitgevoer word.
ATKV-CrescendoKreatief word aangebied in samewerking met MK89 en kykNET.
Vir meer inligting en om in te skryf, kliek op die ATKV-webwerf by www.atkv.org.za of skakel Ilse Schürmann by 0027 11 919 9000.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 21 Augustus 2006.

Kategorie: