8.02.2007 Amy se woestyn-tonele uitgestal
AMY Schoeman se jongste foto-reeks, Mystic Desert II, open vanaand by Studio 77 as deel van die Bank Windhoek Kunstefees.
Dié reeks spruit uit wat verlede jaar begin het as Amy se eerste Mystic Desert-portefeulje wat toe in die Nasionale Kunsgalery uitgestal is. Die tweede reeks is egter 'n uitstalling in eie reg en bestaan, soos sy voorganger, uit 18 werke.
Die uitstalling word vanaand amptelik geopen met 'n dans wat gechoreografeer en uitgevoer is deur Vera Kühne van Dance Art. Vera, wat ballet in Moskou en aan die Modern Dance Theatre in Duitsland studeer het, se dans is gegrond op een van die Mystic Desert-beelde, "Primordial Night", en word uitgevoer met die musiek wat deur Madryn Cosburn ontwikkel en saamgestel is.
"Primordial Night" verteenwoordig 'n herhalende droom wat Amy jare gelede gehad het en waarin sy 'n deel van haar tuin ontdek het wat sy nie geweet het bestaan nie.
Carl Jung beskryf drome as "…a small hidden door in the most secret recesses of our psyche that opens into the cosmic night… dwelling in the darkness of primordial night…" en 'n herhalende droom as een "…which you 'discover' a part of your house you didn't know existed… and could be interpreted as symbolising the anticipation of a new field of interest of which your conscious mind has thus far been unaware."
Prof. André du Pisani, wat die eerste Mystic Desert-uitstalling verlede jaar geopen het, sluit hierdie keer die uitstalling af op Vrydag 23 Februarie om 18:30 met sy gedagtes oor die tweede reeks.
Die beelde is rekenaar-gemanipuleerde interpretasies van medium-formaat transpirante wat Amy in die afgelope 25 jaar in Damaraland, Kaokoland, die Namib en die Kalahari geneem het. Dit wissel van lugblikke en digby-foto's wat hoofsaaklik op die abstrakte fokus, tot grafiese en aardse beelde van droë landskappe. Sommige beeld voortgesette temas in haar lewe uit, in baie gevalle met 'n introspektiewe inhoud wat verband hou met haar innerlike indrukke terwyl sy tyd in die woestyn deurgebring het.
Die reproduksie vir en manipulerings van die beelde is deur Andreas Kahlau van Silvertone Internasionaal in Johannesburg behartig. Die sewekleurige handafdrukke is deur Silvertone vervaardig deur die gebruik van ultrachroom argivaal ink op Epson 100 persent katoen getekstuurde kunspapier. Wanneer dit onder gematigde toestande agter glas bewaar word, sal die afdrukke 'n minimum van 80 jaar behoue bly.
|