11.03.2010 AfterFX voer Piaf se mooiste snitte uit
Edith Piaf se mooiste musiek is môre by NICE te hoor wanneer die groep AfterFX en hul sanger, Esther Fellner, daar optree. Sedert die groep se debuut-opvoering in die Ou Brouerye-kompleks se binnehof in Desember verlede jaar, het die saxofoon- en fluitspeler Lars Heirath aangesluit by Sam Batola (kitaar), Jean- Pierre Ntsika (bas), Jesus Rey (viool) en Guichont Bikoumou (perkussie).
Ester se fluweelagtige stem sorg vir die onvergeetlike lirieke en ’n charismatiese verhoogoptrede. Die toevallige ontmoeting van drie talentvolle musici van Kongo-Brazzaville, ’n Spaanse vioolspeler en ’n Duitse saxofoonspeler in Windhoek, het gelei tot ’n kosmopolitaanse jazzversnit wat vandag as AfterFX bekend staan.
Toe die bekroonde Switsers-gebore sanger Esther Fellner haar wonderskone stem by die groep voeg, het dit Windhoekse gehore laat snak na meer. Met genres van alle uithoeke van die wêreld wat as inspirasie dien, lewer AfterFX ’n ongelooflik ryke repertoire.
Volgende Vrydag se uitvoering dien as gulde geleentheid vir almal wat verlede jaar se konsert misgeloop het om die uitstaande groep musici in lewende lywe te beleef. Diegene wat hulle reeds in aksie gesien het, sal weet dat musiek uit die boonste rakke op gaste wag.
Kaartjies is vooraf te koop by Take Note (061 228 198) en by NICE (061 300 715) en kos N$50. By die deure sal dit N$60 kos. Deure open om 20:00 en musiek word vanaf 21:00 gemaak. Die konsert word moontlik gemaak deur Ongoma, NICE Restaurant, DB Audio en die Franco-Namibiese Kultuursentrum.
|