In hierdie boek wy Nicol Stassen onder meer ’n volle hoofstuk aan die aangrypende verhaal van die Dorslandtrekkers en hul lotgevalle. Tydens hierdie boere se verblyf in Angola was van boerdery min sprake en probleme was velerlei: ’n problematiese verhouding met die Portugese owerheid, terwyl gebrekkige ekonomiese en opvoedkundige geleenthede en gevolglike armoede, soms tot ontstellende verval gelei het.
In 1928 is ongeveer 2 000 Angola-Boerena Suidwes-Afrika gerepatrieer. Die gemeenskap van 386 tot 471 Afrikaners wat ná 1928 in Angola agtergebly het, is aan die vergetelheid en verwaarlosing oorgelaat en is later as ’n “lewende fossiel” en slagoffers van hulle eie behoudendheid bestempel.
Sommige het wel nog ’n lewe uit gemengde boerdery, transportry en jag probeer maak, dekades nadat hierdie lewenswyse elders uitgesterf het. Vanaf 1958 tot 1963 is die meerderheid van die ongeveer 600 Afrikaners in Angola na Suidwes-Afrika en Suid-Afrika gerepatrieer, terwyl slegs enkeles in Angola agtergebly het.
Hierdie groepie Afrikaners het hul Afrikanerskap daar onder moeilike omstandighede gehandhaaf. Met die uitbreek van die burgeroorlog in 1975 in Angola het die laaste Afrikaners uit Angola gevlug en het die verbintenis van die Angola-Boere met Angola ná byna ’n eeu tot ’n einde gekom. Hul interessante en kleurryke lewe word beskryf en die sogenaamde “trekgees” as ’n moontlike rede vir hul swerftogte word onder die loep geneem.
Nicol Stassen is die besturende direkteur van Protea Boekhuis. Hy het vanjaar ’n doktorsgraad in geskiedenis verwerf. Afrikaners in Angola (ISBN: 978-1-86919-340-9) is deur Protea Boekhuis vrygestel. Dit word plaaslik versprei deur Demasius Publications (061 236 938) en is by meeste Namibiese boekwinkels te koop.