Afrikaans kook vandeesmaand in die Nasionale Teater (NTN), met die Bank Windhoek Kunstefees wat die gasheer is vir verskeie Afrikaanse produksies wat nie net die lagspiere gaan prikkel nie, maar ook stof tot nadenke gaan bied.
Een van die talle kunstenaars wat aan die fees deelneem, is die bekende Suid-Afrikaner Randall Wicomb (foto) wat saam met die Mascato Jeugkoor te siene is in die produksie Voete van ’n Gemsbok, wat op Hans du Plessis se werk gegrond is. Wicomb is al jare deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en het verskeie albums vrygestel.
Hy was ook deel van die gewilde duet Randall en Koba, wat die treffer “Rooi Rok” opgelewer het. Randall sing nie net sy welbekende arias saam met die Mascato-koor nie, maar vertolk ook die rol van die Middeleeuse hanswors, wat ’n skerp tong en vinnige humorsin het en die nare waarheid op grapperige wyse vertel.
Die produksie Voete van ’n Gemsbok, gegrond op die Bybeltekste wat as Griekwa-psalms bekend is, word vanaf vanaand tot Saterdagaand by die NTN vertoon. In die NPS Aula op Swakopmund is dit vanaf 8 tot 10 September te sien.
Emo Adams, welbekende Suid-Afrikaanse sanger, akteur, komediant en vervaardiger, beloof om plaaslike gehore te laat skaterlag met sy vertoning Emo en sy Band, waar hy onder meer gewilde sangers soos Nicholis Louw, Bobby van Jaarsveld en Robbie Wessels komies namaak.
Adams is veral bekend vir sy werk saam met David Kramer en wyle Taliep Pietersen. Hy het sy debuut gemaak in programme soos Distrik Ses en Ali Barber en het tans sy eie program op kykNet, Jou Show met Emo.
Die produksie Emo en sy Band, is op 7 en 8 September by die NTN te sien. Ander trekpleisters is Joe Barber, Marion Holm in Met die Holm Gebore, Altus Theart in Hoe ’n Man se Kop Werk en die plaaslike grapjasse Severius Majiedt en vriende in Lag Jou Pap. Die volledige program en kaartjies vir alle produksies is by die NTN beskikbaar. Hou bladsy 7 van Kollig dop vir die onderskeie vertonings se tye en kaartjiepryse.