He loves me… he loves me not… Dis die allewige vraag! Die Windhoek Afrikaanse Privaatskool bied in Oktober sy eie weergawe van High School Musical aan, met altesame 90 leerlinge wat die verhoog sal deel. ’n Kombinasie van liefdesliedjies, hip hop en rock sal Namibiërs van jonk en oud op die rand van hul stoele hou, met stories van liefde, geluk, teleurstelling en nog wat, wat op die gehoor wag.
Die dansers is gechoreografeer deur Anchen Wille terwyl Ilse Stears die musiek redigeer. Die produksie geskied onder die wakende oog van die skool se kulturele organiseerder, Ansie Maré. Met die dr ie hoofsangers wat professionel e opleiding ontvang het onder die bekende stemonderwysers Lientjie van Zyl, Celesté Weck en Mariaan Wilders, asook die kinderkoor wat onder leiding van Fanie Dorfling optree, gaan hierdie musiekblyspel beslis ’n hoogtepunt wees op die plaaslike sosiale kalender.
Hoewel die verhaal in Afrikaans vertel word, is meer as 90 persent van die musiek in Engels. Wie is Sanli? Wie is Kirstin? Wie is Arend? Kom maak van 9 tot 11 Oktober in die Nasionale Teater met hulle kennis! Die produksie, wat deel is van die Bank Windhoek Kunstefeesprogram, is moontlik gemaak met die ondersteuning van Prowealth wat N$50 000 geskenk het.