14.08.2009
Wingerdgriep in Swapo-paartie

Kerneels
DIE verkiesings is op pad en as die opwarmingsoefeninge enigsins ‘n aanduiding is oor wat die uitslag gaan wees, gaan Swapo agterkom Swapo het teen Swapo verloor.
• Dit is nog ‘n lang dag en langer nagte van die lang messe wat wag! Danksy politieke Swaapgeit van Swapo se ongeleide politieke missiele word leiers al in die uitdunne deur die ambisie van medeleiers uitgemoor.
Swapo se plan-B
Kerneels wag vir ‘n wetswysiging oor die vergoedingspakkette van politieke ampsdraers wat weer die geelwortel moet wees om die “food-for-work”-aanstellings aan te moedig om die geld te vat en te loop ten einde die party ‘n kans te gee om ander bloed te hersirkuleer.
• Omkoop om te loop? Dit is so tipies van Swapofaksies se politiek van skynheiligheid om op TV wit mense te nooi om by die party aan te sluit en hulle later op openbare vergaderings as die enigste werklike vyand van Namibië te beswadder.
Hart loop oor
Ook soos gewoonlik is Swapo se nasionale parlementêre verleentheid en ewige reserwe van Swapo se verskillende spanne, die Adjunkminister van vele ambagte maar min deugde, waaronder toerisme en nou ook werkloosheid tel, mnr. Petrus “kapena” Iilonga, só voor op die wa dat die agteros nie die agterryer se kop kon mis nie.
• Kerneels het altyd gedink Iilonga dra ‘n hoed, maar sien dit is ‘n mis. Uit Keetmanshoop berig ‘n korrespondent van The Namibian dat mnr. Iilonga aapstuipe gekry het oor die klein opkoms om na sy slimmigheid te luister en toe die wit mense skuld gegee wat die jeug dronk maak sodat hulle die land kan oorvat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
• Die Iilonga-tipes van Swapo het ook al gesê dat Namibië so yl bewoon is omdat die wit mense al die oorspronklike inwoners uitgemoor het.
• Hy moet vir ‘n slag sy pasboek en Swanlakaart opskeur.
• Namibië is al 20 jaar onafhanklik.
Skandlys van leierskap
Mnr. Iilonga moet weet dat ‘n mens aan jou vriende geken word en daarom maak hy en sy makkers nou asof hulle nie mnre. Hidipo Hamutenya, Jesaja Nyamu of Jeremiah Nambinga geken het nie.
• Of is dit juis omdat hulle die manne ken dat hulle so paniekerig raak en hulle byna die RDP-ritteltit kry. ‘n Hond tjank net as op sy stert getrap word.
• Nou moet die wit mense ou “Praaim Petrus” se politieke praaimis aan die gang hou. Het hy nie dalk ‘n toekomsplan wat hy kan aanbied sodat mense vir hom kan stem nie, eerder as om mense te soek sodat hulle teen ander stem?
• Mnr. Iilonga moes op Keetmanshoop eerder weswaarts beweeg het en die piesangs in mnr. Nujoma se woestynplantasie gaan oes het. Of het hy daarvandaan gekom waar hy eers van die blare gerook het en met mnr. Nujoma se koperhelikopter oor die seegrasplaas gery en van die slaai gekou het nadat hy hoog in die takke van die jogurtbome gedroom het van me. Petrina Haingura se tier met die baie kolle.
• Hy moet dalk blaas voor hy praat?
Drankkenner
Kerneels gaan nie met ‘n kenner soos miesta Iilonga oor Namibië se dronknes, drank- of drinkfeite stry nie. Hy berus by en respekteer mnr. Iilonga se meerdere kennis oor die Namibiese drankbedryf en wens hom geluk daarmee.
• Mnr. Iilonga behoort nie wit mense te beskuldig nie, maar hy kan gerus by die nuwe wit lede van Swapo, soos onder andere dr. Danie Jordaan, gaan uitvind hoekom die wit mense die jeug so dronk maak dat hulle nie by sy vergaderings opdaag nie. Dalk wou hulle net moed skep vir die Iilonga- “meeting”.
• Dr. Jordaan is ‘n geleerde man wat dalk ‘n wetenskaplike verklaring vir mnr. Iilonga se nuutste wit mens-paranoia het.
• As Namibië en mnr. Iilonga stilgestaan het, het die mediese wetenskap dalk gevorder en is dit nou na 20 jaar behandelbaar. Dr. Jordaan lyk vir Kerneels wit en mnr. Iilonga sal dalk dr. Jordaan as “kameraad” glo wanneer hy self vir die Adjunkminister vertel dat wit mense – en nie die swart jeug van Namibië nie – dr. Jordaan op die parkeerplek van ‘n drinkplek ernstig aangerand het.
• Wil hy nou vir Kerneels en Namibië wysmaak dat dr. Jordaan by Swapo aangesluit het om die Swapoleiers dronk te maak sodat hy die party kan oorvat? Kerneels glo nie dr. Jordaan het uit protes teen wit mense wat mense dronk maak by Swapo aangesluit nie. Glo mnr. Iilonga dat dr. Jordaan vir die paartie eerder as by sy party aangesluit het? Dr. Jordaan moet die moer soek wat mnr. Iilonga se ratte deurmekaar krap.
Suide-nagmerrie
Kerneels mors eintlik sy fakulteit om die oorsaak vir die gewoonte-oortredings van mnr. Iilonga te kry.
• Het Iilonga nie die Swapo-betogers voor die parlement en Staatshuis gesien wat ‘n bees op die sypaadjie geslag het terwyl hulle in opstand gekom het omdat mnr. Pohamba se Regering teen onwettige drankverkopers wou optree nie. Toeskouer gewees.
• Is sy eie familie wat ‘n “sjebeen” op Okahao bedryf “undercover” wit mense? Kerneels het nie wit mense gesien wat drank verkoop nie, maar Swapo-stemvee wat geprotesteer het omdat die Regering orde in die lisensiebedryf wou hê?
• Geheueverlies?
Opskort-stemmery
Iilonga weet nie of wil nie weet nie dat nog groter Dax besig is om in Swapo te spat.
• Daar is reeds probleme met die hoofkwartier wat ingryp omdat hulle nie met streke en frontorganisasies se afgevaardigdes na die kieskollege tevrede is nie. Soos Katrina Hanse wat nou as kwotaspeler weer volgens “orders” op ‘n lys moet kom en omdat Swapo ‘n gelyke man- en vrou-kwota wil sien.
• Gaan mnr. Iilonga hom as ‘n même vermom, want hy is redelik laag op alle Swapolyste en -prioriteite.
• Dit is nou ‘n Dax-spul! Mnr. Iilonga moet oppas dat hy nie dalk self voor ‘n “Kapena” Iilonga-bord te staan gaan kom by die parlement nie.
• Kapena Parlement Iilonga. Petrus Kaipô Iilonga?
Polisieskande
Mnr. Iilonga moet eerder uitvind hoe dit is dat ‘n Minister en vrou, me. Rosalia Nghidinwa, beroof word by ‘n lykwaak en die hoof van ernstige misdaad, hoofinspekteur Unandapo, wat veronderstel is om die rowers te vang, by ‘n winkel op 'n klag van beweerde tangdiefstal in hegtenis geneem word.
• Wie sal selfs met ‘n tang aan so ‘n gemors raak? As hy tyd oor het, moet hy gaan kyk watter offisiere in hegtenis is omdat hulle drank uit sjebeens in die Suiderhof militêre basis verkoop het.
• As die wit mense, RDP-weermag en Swaposjebeenbetogers van die parlement almal dronk maak, kan niemand nugter wees nie of almal is blankes. Dan sou die HNP aan bewind gewees het en nie die regstellende aksie weergawe van die destydse NP onder ‘n Swapo-mombakkies nie.
• Kompleet met oubaas PW Botha se vinger en al!