23.05.2008
Wambo-verbod by Pohamba

Kerneels
HOE langer Namibiërs wag vir die seisoen van vakansie om te eindig, hoe langer word die vakansie en hoe langer die vakansie word, hoe meer mense keer terug om te staak van waar hulle met vakansie gegaan het.
• Elke keer wat Kerneels en die res van Namibië van voorneme is om te begin werk, is daar weer vakansie en as daar nie vakansie is nie, organiseer die Swapo-vakbonde stakings as ‘n verlengde vakansie weens kraamverlof onder die politieke dekmantel van onmin.
Nuwe kalenderplan
Is die regerende party nie gelukkig met sy verdeling nie en probeer hulle uit dieselfde lappieskombers waaruit die CoD en RDP kom, elke keer weer ‘n nuwe pak klere sny om oor elke nuwe faksie van onderlinge onmin te trek?
• Namibiërs begin al wonder of elke streep op die Swapo-leiers se NBC-pajamapakke nie elkeen ‘n verskillende faksie in die party verteenwoordig nie. As hulle so aangaan, sal die leier, mnr. Pohamba, een van die dae ‘n swart pak as roubetoon vir die begrafnis van die eenheid van lank, lank gelede moet dra?
• Die enigste streep wat dalk gaan oorbly, is die streep in die Swapo-onderbroek wat in die slaapkamergeveg agtergebly het. Dit sal nie eens genoeg wees om ‘n kruis te maak nie, maar net ‘n streep deur die naam van die party te trek?
• Die leierskap van onenigheid moet dalk saam met hul vroue en “girlfriends” se “maternity leave” ‘n bietjie “maturity leave” vat as gebaar van “compassionate leave” teenoor die res van die land wat elke aand voor die NBC moet regskuif net om “down" plakkate te lees of Swapo se RDP-spoorsnysage op die kassie te volg. Geen wonder die korporasie moes die “gardener’s daughter” uit Suid-Amerika invoer nie, want Swapo kon nie eens meer ‘n “gardener” in die hande kry om ‘n fliek van te maak nie.
Herstrukturering-besete
Die NBC en ander staatskorporasies is sovele kere herstruktureer dat die leierskap nou al self daaraan verslaaf geraak het en hulself herstruktureer en uit die party uit “retrench.”
• Dalk het mnr. Nujoma met sy dosyne kabinetskommelinge en herwinning van uitgediende politieke leierskap van sy pêlle so verslaaf gemaak aan “reshuffle, recycle" en "retrench” dat hulle nie meer anders kan nie.
Namibiërs kan die vernedering gespaar word waar staatsmisbruikers en selferkende korrupte leiers armoede bespreek by werkswinkels waar die leë blikke van die leiersagterhoede met armoede simpatiseer, terwyl hul monde oorloop van skinder, kreef en kaviaar. Geen wonder dat 'n mens nie meer weet of die TV op die NBC-nuus of die BBC Food Channel ingestel is nie.
Pohamba-komplot
Daar moet ‘n komplot teen mnr. Pohamba wees waarvan nie hy of die res van Namibië weet nie.
• Daar kan tog nie ‘n ander verklaring wees vir die wyse waarop mnr. Pohamba deur sy sogenaamde vertrouelinge so ernstig gelyktydig in die rug en in die skande gesteek word nie. Gelukkig kan hy nie nog in die pad ook gesteek word nie.
• Hy is in elk geval alleen bekommerd soos dit vir Namibië lyk.
Eensame tweedrag
Namibiërs is saam met mnr. Pohamba bekommerd oor stygende lewenskoste, maar dit is nie die probleem nie.
• Die probleem is dat die koor waarvan mnr. Pohamba die dirigent wil wees, meer lofsangers het wat elkeen op sy eie deuntjie sing, maar nie genoeg sangers het wat in sy lied van beter diens glo nie en oënskynlik nie die woorde kan onthou nie.
Daar is veronderstelde vertrouelinge van mnr. Pohamba wat nie eens kan voorgee dat hulle hom ondersteun nie, maar hom eerder doelbewus ondermyn asof hulle dalk ‘n ander leier het aan wie hulle rapporteer.
• “Remote kontrôl”? Of is daar moontlik ‘n ander lid wat nie ‘n leier is nie, wat stil-stil ‘n staatsgreep met die oog op die einde van die Pohamba-termyn beplan.
Planlose armoede plan
• Kerneels was juis skepties oor die goeie bedoelinge van mnr. Pohamba se taakspan teen kostestygings, want hy ken blykbaar mnr. Pohamba se Swapo-”customers” beter as hyself. Hulle het reeds bewys dat hulle die teenoorgestelde doen van wat die President hulle vra.
• As mnr. Pohamba vra vir ‘n einde aan korrupsie, pleeg sy verhoorafwagtende en verdagte politieke aanstellings nog meer korrupsie. Asof hulle uitgestelde amnestie het.
• As hy vra vir eenheid, stig hulle sommer onder sy neus ‘n nuwe party met die man wat hyself teruggebring het parlement toe, mnr. Hidipo Hamutenya, as leier uit eie geledere. As hy vra vir meer doeltreffendheid, antwoord die staatsdiens met groter onbevoegdheid.
• Mnr. Pohamba moet net sê wanneer die volgende prysverhogings gaan wees, want die verlagings wat hy soek, gaan hy in verhogings terugkry. Die enigste manier waarop mnr. Pohamba dalk besnoeiings kan bewerkstellig, is as hy sy leierskap se salarisse eerste verlaag, want hulle sal vinnig genoeg aan tienduisend redes dink hoe om pryse te verlaag sodat daar vir hulle nie minder oorbly nie.
• Dan sal hy sien hoe maak die naweekboere op hervestigingsplase met staatskarre vinnig boereplanne.
Hardap se narstreke
Kerneels weet dat mnr. Pohamba ‘n goeie en geduldige mens is, maar wat hy nie geweet het nie, is dat die Staatshoof blykbaar so gaaf is dat hy glad nie omgee om eindeloos in die openbaar deur sy veronderstelde leiers beledig te word nie.
• Die enigste ander rede waarom mnr. Pohamba so kalm en bedaard lyk en optree, moet net wees omdat hy salig onbewus is van wat agter sy rug gebeur en hy onder ‘n permanente wanindruk gebring word. In die toppunt van Swapo verdeeldheid sonder einde en ‘n nasionale verleentheid wat soos Okahandja in ‘n seepopera van absurditeit ontaard het, word die Swapo-raadslid vir Rehoboth- Oos, mnr. Eduard Wambo, deur sy veronderstelde Swapo-kamerade verbied om ‘n openbare vergadering van die President van die land en Swapo by te woon en boonop met die polisie gedreig as hy dit sou waag.
• Is mnr. Wambo sy eie vergadering verbied omdat hy Katrina se kar moes was? Dit is ‘n skande dat die streekraadslid as mnr. Wambo by die vergadering aangekom het, maar behandel is soos die Nasionale Party ‘n Swartbooi sou behandel het wat by hul vergadering sou aankom.
• Is daar ‘n Swapo/HNP-faksie ook? Daar is nou reeds Swapo/Omusati, Swapo- Oukwanyama en selfs ‘n Swapo sonder ‘n mnr. Wambo op Mariental.
• Kry hulle nie een nie of wil Katrina nie een hê nie? Wat sê mnr. Pohamba van sy vergadering sonder mnr. Wambo?
• Eers het die goewerneur, me. Katrina Hanse, gesê dat Capriviane nie welkom is nie, nou is ‘n Wambo ook nie in Hardap welkom om na ‘n ander Owambo te luister nie, selfs al is hy Namibië en Swapo se president. Swapo het dalk een van die dae nie eens ‘n Swapo wat by Swapo welkom is nie.
• Operasie saamstaan om uitmekaar te val!