Market indicators


8 Februarie 2012

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

5.03.2010

Voorbokke spring aan mekaar in kraal

© Republikein
Kerneels
DIE uitspraak in die verkiesingsaak is van minder belang as wat in elk geval self deur die Verkiesingskommissie en die direktoraat oor hulself bevestig is. Onrehabiliteerbare gewoonte-oortreders wat verslaaf geraak het aan die verskonings wat hulle die afgelope tien jaar uitgedink het en dit later begin glo het as die waarheid.

• Namibiërs is geduldig, maar die kommissie en direktoraat sal uitvind dat die verkiesingsgeduld opgeraak het. Nie almal in Namibië is soos ’n Tonchi wat sy kop teen dieselfde klip gaan kap nie.

• Die owerhede het in elk geval ’n groter kans om die N$10 miljoen dollar “jackpot” by ’n casino met ‘n enkele 5c-stuk te wen as dat daar nie groter omstredenheid en ongelukkigheid met die einde van die jaar se munisipale en streekverkiesings gaan wees nie.
Kommissie-wanindruk
 
Die skande van die afgelope hofsaak waar ’n kommissielid, ene Ueitelle, daarop aangedring het om tussen die regsverteenwoordigers te sit eerder as in die openbare galery, is maar een van die bewyse van die wanindruk wat die kommissielede van hul eie status het.

• In ’n verstommende gebaar van nog groter arrogansie en plein dikvelligheid wou die kommissielid die regters onder leierskap van die Regterpresident, mnr. Petrus Damaseb, privaat onder vier oë oor die sitplekreëlings spreek.

• Gelukkig en soos verwag, het Regter Damaseb nie met hom laat speel nie en die ECN se regsverteenwoordigers aangesê om hul kliënte in te lig dat die hof hom nie met nonsens ophou nie.

• Tipies van wat Namibiërs van die arrogansie van onkunde in Swapo-geledere en aanstellings uit hul politieke bevoegdheid verwag het.

• Wil die reëls van die verkiesings maak, die spanne kies en dan boonop met die skeidsregter se trui in een van die spanne speel ook.

• Dit is wat die hofsaak bewys het en waarvan die aanstellingsowerheid kennis sal moet neem.
Verkiesingswiskunde
 
Die verkiesingswiskunde en geskiedenis van hofsake oor uitslae bewys nie net dat die verkiesingsmasjinerie nie op alle silinders vuur nie, maar dat dit in tien jaar nie reggestel kon word ten spyte daarvan dat die einste Regter Damaseb in ‘n 2005-uitspraak die voorsitter van die Verkiesingskommissie vertel het hoe hy moet maak en wat hy en die Verkiesingskommissie nie moet maak nie.

• Wanneer kommissielede egter daarop aandring om tussen die regsverteenwoordigers te sit omdat hulle te slim is om tussen die gewone mense te sit of te dom is om hofreëls te verstaan, verstaan Kerneels ook hoekom politieke stoepsitters soos ene Hendrik Christian met kroniese simptome van vermoedelik regsverslawing dit kan regkry om namens sy party (Swanu) te vra vir die diskwalifikasie van Regter Damaseb om die verkiesingsaak te kan aanhoor.

• Gaan hy nou ook sy party (Swanu) hof toe vat omdat hulle die NBC gebruik het om hulle in die openbaar van hul regskenner “Khoi-San” Christian se Damaseb-petisie te distansieer?

• Swanu se hoofbestuur kon sekerlik baie ander plekke as die Zoo-park gekry het om mnr. Christian te repudieer of was dit simbolies van wat hulle van mnr. Christian dink dat hulle op die Zoo-park besluit het? Dit is mos laster en mnr. Christian sal moet prosedeer?
Besige hofskedule
 
Dit is as die agbare lid van die koffietafelparlement tyd in sy besige hofskedule kan vind, want hy is nog met die TCL-pensioene ook besig?

• Waar sy kliënte op die sypaadjies en onder die Koedoe moes slaap.

• Kon hy hulle nie na die Swanu Zoo-parkhoofkwartier vir verblyf verwys het nie. Dan het hulle minstens in die koelte gesit?

• Kerneels wil nou nie snaaks wees nie, maar mnr. Christian se persoonlike geveg met mnr. Damaseb se onderrok hang vieslik uit.

• Kom dit nie maar eintlik van die sokker af toe tot Christian ’n “own goal” teen homself aangeteken het nie en basies lewenslank deur Fifa van sokkerbestuur af verwyder is nie? Namibiërs weet nie en vra maar net.

• Dat Swanu nou hul woordvoerder van die kafeestoepe in die middestad na die Zoo-park toe moet “promote”? Swanu moet sommer die Zoo-park-staanplek se nommer en besoektye ook gee?
NBC-krisisbestuur
 
Dit sal dalk nie ’n slegte plan wees om die Zoo-parkadres vir die NBC-raad aan te stuur nie, want dan kan hulle dalk daar vir ’n nuwe direkteur-generaal ook soek met wie hulle en hul minister dalk minder kommunikasieprobleme sal hê.

• In die jongste sirkus soek hulle na die hoeveelste direkteur-generaal nadat hulle ’n reeks die afgelope vyf jaar moes afdank en moes afkoop om die persele te verlaat.

• Eers was dit die enigste kyker en vervaardiger van die Sam Nujoma-rolprent wat “Day of the Jackal” se begroting na ’n Swapo-kollekte laat lyk, ene Kaumbi, wat dit uiteindelik ook reggekry het om Pacon tot die ashoop van nasionale debatvoering te bevorder.

• Dan was daar nog ene Jerry Munyama wat verhoorafwagtend is weens bedrog. Hy moet eintlik Namibië se minister van finansies word en Kerneels sal ou Jerry sommer verniet verdedig en dalk ’n beter ”job” as Hendrik Christian se (mam)paralegals doen.

• Regters van die land is nie sulke mamparras wat sal glo dat ’n man homself onwetttig kon verryk uit ’n kronies bankrot staatsinstelling nie.

• En as hy kon, behoort Munyama eerder minister van finanies te wees, want hy kry geld waar dit nie is nie en die Namibiese belastingbetalers kan met rus gelaat word.

• Ben Mulongeni is ook “gefire”, maar hy het merkwaardig as omroeper ’n terugkeer gemaak en na sy NBC-afdanking nog meer merkwaardig gekwalifiseer as ’n Swapo-intellektueel.

• Is ’n Swapo-intellektueel se belangrikste kwalifiakasie om deur die NBC ge-“fire” te word, want mnr. Matthew Gowaseb was een en mnr. Mulongeni is ook een.

• En nou sit die intellektuele in Swapo nie eens om een vuur nie en een soos mnr. Kazenambo soek enige president solank hy nie ’n Owambo is nie en die ander soek enige president solank dit ’n Owambo is.

• Geen wonder die vakbonde se sekretarisgeneraal, ene Evilastus Kaaronda, sê daar is nie plek vir witmense in Namibië nie.

• Hoekom voel Kaaronda nou pikswart. Is hy ’n Duitser of is hy in die Duister.
Herero-boeredag
 
• As Kerneels nie van beter geweet het nie, sou hy gedink het mnr. Kaaronda se aanslag teen witmense is eerder om die aandag af te trek van die feit dat hy ’n Herero is en sekretaris-generaal is van die werkersfederasie wat by verre uit werkers uit die voormalige Oshiwambo- en Owambo-magsbasis van Swapo bestaan.

• Is Kaaronda nou bang die regte vryheidsvegters kom agter hulle word verteenwoordig deur iemand wat nie die party en stryd verstaan nie en daarom soek hy nou ’n persoonlike weerligafleier by die blankes, regters en Duitssprekendes?

• Die bietjie Duits wat Kerneels ken, het niks met die Loch Ness-monster te doen nie, maar Kaaronda kan daaraan ook gaan lek.

• Hy kan homself nie eens meer ernstig opvat nie en moet eerder saam met Swanu Zoo-park toe trek? Kaaronda en Swapo se eie ongeleide missiele behoort hulle koppe in hul eie Loch Neste in te druk.

Wat sê die 36 Okahandja blanke bekeerlinge en die onskuldige ou 18-jarige meisietjie wat haar vuisie in die lug gegooi het en “viva Swapo” geskreeu het oor hul vakbond-bondgenoot se rugstekery.

• Glo hulle nou vir dr. Ngurare wat jare moeite doen om die blankes by Swapo te betrek of vir Kaaronda wat wil hê die blankes moet trek.

Wat sê dr. Ngurare of het die agbare dr. Ngurare nie pille vir die Kaaronda politieke pasiënt en Swapo-verleentheid nie.

Kerneels