DIE handskoene is af in die Swapo-huismoles en die ringkoppe van die party praat in sirkels.
• Op Eenhana ontdek die voormalige Hidipo Hamutenya-kameraad, mnr. Hage Geingob, ‘n "huisnegerfaksie" en ‘n dag later op dieselfde plek ontdek die voormalige Hage Geingobkameraad, mnr. Hidipo Hamutenya, op sy beurt weer korrupte voormalige kabinetskollegas. Etsê! • Na al die jare word dieselfde mens van dieselfde plek ander mense van ‘n ander plek? Kan jy nou meer?
• Volgens Swapo se fabel verander prinse in paddas nadat mnr. Nujoma hulle gesoen het.
Aangename kennis
Die politieke frats van Eenhana se afsonderlike Swapo- en RDP-vergadering is deur twee teenstanders toegespreek wat eens op ‘n tyd die "Hage" Dawid en "Hamutenya" Jonathan van Swapo was.
• Gelukkig weet Namibiërs van beter as om meegesleur te word deur die woordoorloë wat in Swapo se vertrouenskraal woed. Kerneels en Namibië wil ook weet wat sê mnr. Jerry Ekandjo van die spulletjie. Volgens agtereenvolgende kongresse is hy immers die gewildste op die kongres.
• Wag hy sy beurt af? Of is hy mnr. Nujoma se geheime wapen en "remote control"?
• Mnre. Geingob en Hamutenya wat op Eenhana teen mekaar in die kryt geklim het, was in ‘n stadium van die onlangse staatkundige verlede beide die kroonprinse van mnr. Nujoma en mnr. Nujoma het toevallig met beide "broers" ook "onverwags" ‘n plan gemaak.
• Die twee se Nujoma-afdankings was dalk ‘n tikfout met mnr. Nujoma wat onder die indruk was dat hy van twee "boers" ontslae raak in plaas van Swapo-broers. Die Afrikaners is nie eens so plesierig nie!
Politieke sabotasie
Die twee faksies wat mekaar in die gewese magsbasisse aanvat, moet in die gees van doeltreffende administrasie eerder vir hul "rent-a-crowd" ‘n saamryklub stig.
• Met ‘n ooraanbod van Swapo-organiseerders wat nie skroom om die staat se masjinerie vir homself te gebruik nie, moes die Regering weens die efundja die vloot oproep. Die "rent-a-crowd" wat as Swapo se mobiele reserwe van boom tot boom aangery word, het klaar nuwe vervoerprobleme vir die RDP geskep.
• Die Swapo-span wat Vrydag aangery was Eenhana toe, het op Eenhana oorgebly en Saterdag ná die RDP se Eenhana-saamtrek weer met die RDP-ondersteuners na hul bestemmings teruggery.
• "Join”"Swapo of die RDP en sien die efundjatoer. Die RDP behoort uit dankbaarheid vir Swapo se organiseerders van die "rent-a-crowd" ‘n subsidie te betaal.
• Swapo gee seker nie om nie, want dit is seker net sy eie "house niggers" wat hy van die RDP wegry. Die party was nog nooit goed met rekenkunde nie. Die verskillende beleggingskandale en ouditverslae bewys dit.
• Moontlik moet Swapo se sekretaris van vervoer eerder uitwerk hoekom die aantal mense wat na sy party aangery word, minder word na afloop van ‘n RDP-vergadering. Hoe maak Swapo nou?
• Is dit wat Swapo bedoel met "smart partnersheeps"? "Sheep" is dalk smarter as die "partner"?
‘Luxury’ alliansie Of is daar werklik boonop ‘n faksie van "sleeping partnerships" soos wat die Minister van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn, me. Marlene Mugundu, na verwys het in die Parlement toe sy by die sekretaris van die Vroueliga, me. Petrina Haingura, wou weet of die skimp waar is dat vroue in Swapo net in hoë poste aangestel word as hulle by leiers slaap.
• Slaap almal nou in die Swapo/RDP-dubbelbed? As me. Haingura weer van ‘n tier droom wat onder ‘n boom sit, moet sy kyk of sy kolle nog dieselfde is.
• Sover Kerneels kan agterkom, is die tier in Swapo los. Uit die dawerende stilte vanuit die Mugundageledere is die tier se broek gelukkig nog vas.
• Nou rafel Swapo se leierskap en magsbasisse vinniger uit as wat Kerneels dit kan ontrafel.
Pohamba-aanslag
• Swapo se sekretaresse-generaal, me. Pendukeni Ithana, kla teenoor die NBC dat die gehalte van NV-debatte nie so hoog was soos vroeër toe die Ouer Staatsmanne in die NV was nie.
• Laas kla sy oor die NBC wat nie die NV en debatte reg rapporteer nie. Die pot kla nou by die ketel oor die pot!
• Wie het die laegraad debatvoerders aangestel?
Laegraad debat
Swapo is nie alleen skuldig aan die lae standaard van debatvoering nie. Monitor Aksiegroep se leier, mnr. Kosie Pretorius, is minstens aandadig deur homself as een van die wêreld se slimste mense van die 21ste eeu met mnr. Jurie Viljoen in die NV te vervang.
• Of is mnr. Viljoen intussen deur dieselfde organisasie wat mnr. Pretorius aangewys het, as slimste mens van die 22ste eeu aangestel? Kerneels sien op die NBC dat mnre. Pretorius en Viljoen by mnr. Pohamba steeds oor "affirmative action" kla.
• Dit is net in die FAK-bundel waar die volkies nog vanaand koring sny.
Volle waarheid
Het hulle vir mnr. Pohamba gedurende hul staatshuiskuiertjie gesê dat tweedrag in hul geval MAG maak?
• Twee ooms ry nie eens saam op ‘n alleenpad nie? Aan die een kant sê hy en mnr. Viljoen nie nee dankie vir die "oorskotstemme" van Swapo wat hulle ‘n setel gegee het nie, maar aan die ander kant "laaik" hulle nie die stelsel nie?
• "Laaik" hulle mekaar? Wees bietjie eerlik?
Pretorius-pas
Mnr. Pretorius moet homself nie verknies oor die dom "mensdom" wat dalk mag dink dat hy die Grondwet in 1990 ondersteun het, terwyl sy "konsensus" blykbaar in 2008 beteken dat hy dit verwerp het nie.
• Mnr. Pretorius moet ons "armes van gees onse salige onnoselheid" gun. Mnr. Pretorius het ‘n mooi en skoon rekord en as voorbeeldige kuiergas in die voormalige vyfde provinsie van Suid-Afrika sal hy by ‘n ewe ordentlike mnr. Pohamba van Namibië ‘n erepermanente verblyfpermit kry.
• Daar is blykbaar ‘n vakature vir iemand as hoofman in niemandsland se la-la land.
• In MAG se geval is daar ‘n werklike gevaar dat agteros nie met die hulp van enige Swapo met die volgende verkiesing in die kraal gaan kom nie. Eerder politieke slagplaas toe!
• Die 21-kanonskootsaluut wat vandeesweek die NV-opening aangekondig het, het vir Kerneels baie soos ‘n politieke pensskoot geklink. Hoe klink dit vir oom?
• Het hulle gehoop dit is genl. De la Rey wat kom om te lei? Dit is ‘n spesiale Koos wat soos oom Koos visioene in die plek van verskonings kan kry.
• Dit lyk asof hy ‘n nagmerrie met ‘n visioen verwar het toe hy oom Jurie raakgedroom het. Een-mens-een-droom-verkiesing?