
Kerneels
DIE spook van die verkiesings weier om te gaan lê en hoe meer vure doodgeslaan word, hoe meer word die vlamme van verdeeldheid gestook.
• Asof verkiesingsellende nie genoeg is nie, loop die spook van ’n nuwe kabinet ook in die huis van interne verdeeldheid en onderlinge karaktermoord.
• Namibië se selfoonverskaffers en Telecom maak die afgelope tyd ’n verlies, want weens die kultuur van agterdog en politieke sluipmoord kan selfs ’n welwillendheidsoproep loopbane kelder of tot nuwe komplotte aanleiding gee.
• Dit is nie net tipies nie, maar is die bewys van die onrehabiliteerbare komplotpolitiek van Swapo se interne huismolesleierskap waaraan die party by die berugte 2004-skeuringskongres verslaaf geraak het.
• Faksie-magsdronkolisme! In die proses om die vure van eie- en faksiebelang te blus, tree van die party se veronderstelde leiers op soos ’n brandweerman wat ’n veldbrand blus met ’n goiingsak wat met petrol natgemaak is.
• Het Swapo al probeer om ’n faksielys saam te stel? Swapo-D, Swapo-CoD, Swapo-RDP, Swapo-exile, Swapo-binnelands, Swapo diplomatic, Swapomilitary, Swapo-Lubango, Swapo-Omusati, Swapo-Oukwanyama, Swapo-Ondonga, Swapo- Utoni, Swapo-Ekandjo, Swapo-Kwangarra, Swapo-Ngurare-jeugliga, Swapo-Hardap-jeugliga, Swapo-Dax en die tradisionele Daxerige-Swapo. Swapo-werkloos, Swapo-straathoek, Swapo R5- kamp, Swapo-Mix, Swapo-China, Swapo-Nujoma en Swapo-Pohamba, Vyf-voor-twaalf-Swapo, Boere-Swapo en Boervloek-Swapo?
• En dan het die party boonop net 54 setels in die NV om sy 154 faksies aan te spreek.
• Politieke klaasfaksies-leierskap. As dit so aangaan, sal elke lid van die party in 2012 na die volgende kongres sy eie Swapo hê waarvan hulle president kan wees.
• As die ECN nou nie eens weet hoeveel stemme in die land is nie, sal hulle nie die faksies van die 2012 historiese skeuringskongres kan tel nie.
• Namibiërs boer nie in die hof oor verkiesings- uitslae nie. Hulle boer in die hof oor faksies van Swapo wat dit nie aanvaar nie en die ECN wat dit nie kan regkry of voorgee dat hulle probeer nie.