20.06.2008
Politieke hamel soek klok se bel
DIE staatshoof het Namibiers vandeesweek tegemoet gekom deur zero belasting op basiese voedselsoorte soos meel, vet en boontjies af te kondig, maar hy kon Namibiërs meer help deur van sy eie “politieke zero-kamerade” ontslae te raak.
• Die politieke zero’s van Swapo se Lubango- putstelselpolitiek wat nie kans sien om hul basiese verpligtinge ten opsigte van water en ligte na te kom nie, sal waarskynlik ook weier om die zero belasting op basiese kossoorte te betaal en eerder ‘n salarisverhoging eis omdat hulle weens hul status net kaviaar mag eet. Selfs ‘n disleksiese Kerneels ken die “heroes” teen die tyd!
Pohamba-dilemma
Namibiërs weet dat hulle onbepaald met die zero leierskap opgeskeep moet sit, want uit hul persoonlike sake wat nou danksy die balju’s en geregsbodes openbare kennis is, is dit ‘n gevaar om van hulle ontslae te raak, want die bankrotvendusie- bedryf sal tot stilstand kom.
• Kerneels weet ook hoekom die leierskader die wêreld rondreis, nooit op kantoor is nie of na bykans 20 jaar van onafhanklikwording steeds nodig het om op landwye besoeke te gaan om hulle van Namibië te vergewis Hulle kan dit nie waag om op kantoor of by die huis te wees nie, want dan weet die geregsbode waar om hulle in die hande te kry om dagvaardings op hulle te dien vir agterstallige water- en ligterekeninge of plaas- en “cash loans”.
• Buitendien is dit seker nie lekker om in ‘n donker huis te sit omdat die ligte van een groep weens politieke komplotte afgesny kan word en ander s’n weens dieselfde politieke komplot op skuld kan aanhou brand nie.
Die Staatshoof sal meer bereik deur die zero politieke aanstellings saam met die gekamoefleerde Amerikaanse kondoomskenking in die pad te steek, voordat hulle hom langer in die rug, skande en dit wat van hom oorbly, ook in die pad gaan steek.
Gekamoefleerde weelde
Dit is nie net gekamoefleerde Amerikaanse kondome wat die Namibiese leierskap in die skande steek nie, maar daar is so min vertroue in die Regering se kondoomplanne dat die Owambo-hoofmanne nou besluit het om op ‘n eenvormige kompensasiestelsel vir vroue wat buite die huwelik swanger gemaak word deur iemand wat so ‘n goed-gekamoefleerde kondoom het ,dat hy nie lont ruik voor dit laat is nie.
• Die glipsies sal voortaan in die Noorde twee beeste of sowat N$1 600 kos. Dit Amerikaners kan solank ‘n fosforkondoom ontwerp sodat die hoofmanne voor die tyd die moeilikheidmakers kan indentifiseer.
• “Glow in the dark?” Die “torch condom” sal waarskynlik lig op die donkiemaniere werp wat die hoofmanne nou met beesboetes wil ontmoedig.
• Boonop skyn die lig sonder batterye en kan van die ministers en ander hooggeplaastes dit dalk opblaas en as lanterns gebruik wanneer hulle krag afgesny word. “Smart partnership?"
Jeugliga se Zimbabwe-stryd
Die Swapo Jeugliga kan dit sommer saam met die Amerikaanse gekamoefleerde kondoomskenking in Zimbabwe gaan toets nadat die gekkeparadys-faksie van Swapo onder leiding van ene Eliah Ngurare onlangs vol bravade op die NBC se kassie aangekondig dat die Jeugliga gereed is om die wapen in die land op te neem om die diktator, Robert Mugabe, aan bewind te hou.
• Dan is die Jeugliga minstens op ‘n Parramilitêre sending? Sover Kerneels weet, is die jeugligaleier, Eliah Ngurare, ook die persoonlike assistent in gewone boeretaal, ‘n sekretaresse van die vorige minister, mnr. John John Pandeni, gewees en Kerneels weet nie of mnr. Ekandjo sy eie sekretaresse saamgebring het nie.
• Wil Ngurare regtig die Mugabe-parra-militêr se mamparra wees? Hy moenie die sekretares-pligte so ernstig opvat soos van sy kollegas in die staatsdiens sodat hy later ook twee beeste as skadevergoeding moet eis nie?
Ngurare-oproepinstruksies
Ngurare moet eers die gemors op Rehoboth, die politieke en administratiewe gemors van Katrina Hanse en die dreigende Swartbooi-staatsgreep in die Jeugliga oplos voor hy Zimbabwe toe vertrek of hy moet vir hom ‘n Swartbooitjie as kofferdraer saamvat.
• Net nou kom hy iets oor en dan sit Namibië met die probleme. Behalwe as Ngurare Zimbabwe toe vlug en eerder vir ‘n oorlog kans sien as om Swapo se huishoudelike probleme te help oplos.
• Lokasie-kamakazi?
Pohamba-krisisse
Dit begin toenemend vir Kerneels lyk asof mnr. Nujoma die meeste van sy “puppets” en houtpoppe aan mnr. Pohamba oorhandig het, maar vergeet het om die leisels waarmee hy hulle bestuur het ook aan mnr. Pohamba te gee.
• Nou sit mnr. Pohamba met die onrehabiliteerbare houtpop-politiek van Swapo se agterbankers van politieke windblasers opgeskeep wat met hulself opgeskeep is. Meeste mense behandel hul eie houtpoppe nie eens so sleg as wat mnr. Pohamba deur sy veronderstelde kamerade in die skande gesteek word nie.
• Kerneels sal die versoeking weerstaan om te beweer dat die leegste blikke weer die meeste geraas maak soos met die Landbouwerkgewerskongres se Ngatjizeko/ Iilonga-spanpoging rondom die afgesaagde werkers-in-die-padgordel-verhaal.
• Die twee broers moet nie die boere blameer vir die arm mense wat deur die Regering in die padreserwes afgelaai is nadat hulle van staatsgrond afgegooi is en net deur bemiddeling van mnr. Naruseb gehelp is nie. Kerneels verstaan nou hoekom mnr. Ngatjizeko as minister van handel en nywerheid deur mnr. Pohamba vervang is.
Afwesig met verlof
Mnr. Iilonga het vandeesweek weer in die NV gedemonstreer het dat sy mond van sy hart oorloop.
• Is hy nie bietjie oud om so geesdriftig aan ’n kondoomdebat deel te neem en dit boonop te probeer oorheers nie?
• Sy comrades in onafhanklikheid se Swapo Namibiese tronke kry swakker behandeling en minder respek as wat mnr. Iilonga op Suid-Afrika se Robbeneiland gekry het. Gaan vra die tweederde Swapo’s in Namibiese tronke wat die tweederdemeerderheid van Swapo buite die tronk reflekteer?
• Iilonga ken die tronk, maar hy ken nie Swapo nie? As die Avid-sage en die Teenkorrupsie Kommissie bietjie vorder, kan hy binnekort met van sy kollegas ‘n hoofbestuursvergadering agter tralies hou.
• As selfs die Swapo Jeugliga sy eie leiers se platvloersheid in die Parlement verwerp, stem almal oor een ding saam. Platvloersheid!
• Mnr. Iilonga sal dalk beter lyk met ‘n kondoom op sy kop as met die baret. Dalk moet hy ‘n klokkie aansit sodat hy die bel kan voel en daarvoor het hy soos op Robbeneiland nie ‘n kondoom nodig nie.
• Belhamel?