26.03.2010
Pohamba se span is ’n plan

Kerneels
NAMIBIË se onafhanklikheidsrekord is besig om sy bevrydingsgeskiedenis in die skande te steek.
• Waar’s die manne? Daar is nou te veel narre. Daar is leiers wie se onafhanklikheidsoptrede in die bevrydingsoorlog as lafhartigheid sou kwalifiseer, terwyl hul onderlinge rugsteekdemokrasie op hoogverraad sou neerkom.
• Wie gaan voor vat as die leierskultuur nou reeds een van agterafknoeiery is?
Afhanklike onafhanklikheid
Kerneels en duisende doodgewone Namibiërs het die afgelope naweek gewys en bewys dat hulle en die land onafhanklik is.
• Hulle was in goeie geselskap, want mnr. Pohamba het aangekondig dat hy die President is en dat hy almal se president is. So anders as wat die Nujoma-pryssangers Namibiërs wou laat glo. Hulle weet ook nou dat die regerende party oor genoeg selfaangestelde politieke narre en ongeleide politieke missiele beskik wat nie saam met Namibië onafhanklik geword het nie.
• Siestog!
Rugsteek-politiek
Vandeesweek is daar ’n nuwe Swapo Jeugligamissiel, ene Ithete, op die toneel wat die agbare Minister van Onderwys asook mees gerespekteerde leiers van die land, dr. Abraham Iyambo, wil verdedig.
• Uit sy sinnelose verklaring namens die Jeugliga se afdeling van onderwys moet Ithete verwant wees aan agbare Ithete wat volstruiskuikens in die Etosha opgetel het omdat dit vir hom gelyk het dat hulle na hul ma verlang.
• Dit is die dae van die Tjiriange/Ithetevolstruisplaas met sy destydse staatsboorgat wat met droogtehulpgeld geboor was?
• In ’n onoortreflike stap van misplaaste selfdunk stuur die agbare Swapo-kortbroek politieke vuvuzela, ene Ithete, verskeie foto’s vir publikasie waar hy met ’n leë pyp in sy Landbankkantoor en sy Landbankhemp poseer.
• Kerneels dog daar is ’n NV-wet deur sy leiers gemaak wat rook in openbare geboue verbied?
• Boonop misbruik hy die Landbank se eposgeriewe om ’n Swapo-verklaring te maak waar een nie hoef gemaak te gewees het nie.
• Nou weet Kerneels hoe skouspelagtig onderwys kan misluk! Die probleem is dat Swapo in eie geledere meer leiers het as vyande van ander partye wat vergewe moet word.
• Identiteitskrisis?
Botjotjo-volstruispolitiek
Kerneels is nie een van die party se politieke botjotjo’s wie se koppe in die grond is en hul stertvere in die lug nie.
• Geen wonder daar is kiesers wat die onafhanklikheidsnaweek gebruik het om deur besetting beslag op stukke munisipale grond in Katutura te lê nie.
• Is dit nie van die aangehoudenes wat uit Swapo se Lubango-gate vrygelaat is as twintigste verjaardaggeskenk en nie weet hoe dinge in Namibië werk nie.
• Die vraag is nie wie hulle onder die wanindruk gebring het nie, maar waar hulle tot die naweek gebly het. Wie presies het hulle losgelaat en hoekom was die onafhanklikheidsvieringe die perfekte tyd?
• Munisipale amptenare self, of nog steeds deel van die interne selfondermyning en politieke hinderlae op die hoogste politieke vlakke?
• Swapo moet begin soek na ernstige akteurs vir sy politieke opvoering. Daar is ’n ooraanbod van politieke narre!
• Slaan tent op en vra geld?
Munisipale anargie
Die Swapo “originals” het toe soos Kerneels voorspel het, die voorosse in die Swapokraal geslag en self laer getrek.
• Hy gaan ook weer reg wees met die oog op die munisipale verkiesings, want hy weet wat Swapo-“originals” doen wanneer reëls gebuig en verander word soos wat Namibiërs van sy faksieverdeelde stadsraad en munisipaliteit van ‘n amptenaarstaatsgreep onder die “Trêpper staail” gewoond geraak het.
• Dit is reeds ’n openbare grap dat sy haar eie kollegas in die bestuurskomitee beskuldig dat hulle net vrae oor munisipale besluite vra “omdat sy Swapo” is.
• “Shame”. Is sy moontlik nie een nie of aanvaar haar kamerade haar nie as een nie?
• Of beide? Kerneels het gedog Swapo is in die meerderheid, maar danksy die Trepper-faksievorming is hulle nou skielik ’n minderheid en slagoffer!
• Sy en haar Kamatuka/Boas Ekandjo-kofferdraers moet maar wag tot die einde van die jaar se munisipale verkiesings om hul fout agter te kom.
• Of is hul velle dikker as wat selfs Kerneels kon vermoed? Tata, comrades. Kapena Ilonga!
Kristalbal-politiek
Hopelik leer die ongeleide Swapo-missiele in die staatshuishouding nou ’n les.
• Kerneels het gewaarsku dat die “five to twelve” Swapo’s in gesagposisies en diegene wat hulle in frontorganisasies ingekruip en ingewurm het, Swapo-“originals” gaan leer ken.
• En wat doen die Swapo-“originals” onder leiding van President Pohamba. Hy skud die bos en nie een van die vrot appels van die “five to twelve” Swapo’s sit in die NV- of Kabinetstakke nie.
• Iesh! Kerneels wil nou nie weer die Swapokat wees wat onder die hoenders losgelaat is nie, maar hy waarsku nou dat mnr. Pohamba se Kabinet nie sy span is nie, maar eerder sy plan.
• Is die Adjunkminister van Finansies, mnr. Calle Schlettwein, se bevordering tot die adjunk van ’n minister wat wou bedank het en later gedink het sy gaan dit nie maak nie, me. Sarah Kuugongelwa-Amadhila, ’n hinderlaag of ’n versekeringspolis.
• En miesta Ndhishihi? Kerneels hoor dit het nie goed gegaan met hom by Staatshuis en verskeie verteenwoordigers van Swapo en Swapo se maatskappye nie.
• Dit is ’n storie vir ’n ander Vrydag. Miskien moet hy sy mediese fonds “check”, hy mag dit dalk nodig kry!
‘Imperialist’ versoening
Volgens die Pohamba-kabinetsaanstellings het ’n “imperialist”, RDP-“hibernator” in Swapo se topstrukture ’n beter kans om aangestel te word as ‘n “five to twelve ”Swapo in die streeks- en munisipale besture.
• Swapoleiers en frontorganisasies moenie nou geheueverlies ontwikkel oor wat hulle onlangs van mekaar gesê het nie, terwyl hulle die dolke van karaktermoord tot by die hef in mekaar se rûe gedruk het.
• Kerneels drink nie karrie en kashipembe nie en verfris graag die manne wat nog geheues het se geheues.
• Namibië se “memory lane” van rugsteek en verdagmaakpolitiek in die party se topleierskap is nie so kort nie.
• Dit is byna soos ’n slegte rolprent waaroor ’n mens nagmerries kry.
Mislukte politieke staatsgreep
Heel boaan die lys van verdagtes uit Swapo se eie geledere was niemand minder nie as die Staatshoof, mnr. Hifikepunye Pohamba. Toe moes spesiale kongresse die kandidaat aanwys.
• Toe was dit me. Nandi-Ndaitwah wat oor die millenniumrekening ’n verraaier en imperialis is. Genl. Namoloh was ’n RDP-“hibernator”, dr. Nickey Iyambo ’n verdagte en dr. Hage Geingob ’n kwangarra. Toe moes mnr. Nahas Angula ge-“fire” word en daar was selfs sprake dat hy sal bedank.
• En nou, nou weet Namibiërs dat Swapoleiers en kansvatters die brieke gaan losmaak met die oog op die 2012-leierskongres.
• Namibia, you ain’t see nothin’ yet!
Kerneels