12.02.2010
Goed, slegter, maar dieselfde

Kerneels
DIT het Namibiërs nie lank gevat om die reputasie te verwerf dat sekere dinge net in hierdie land en nêrens anders in die wêreld moontlik is of gebeur nie.
• Wat wel lank vat, is dat daar mense in die sogenaamde hoë stoele van besluitneming op verskeie vlakke van die samelewing sit wat nie wil besef dat daar van die rekords is waarop niemand trots behoort te wees nie, maar dit ook wil oortref.
Dit sal Kerneels nie verbaas as die regering van interne leiersverdeeldheid en nasionale kommunikasiegapings binnekort sal moet adverteer om vakatures te vul nie.
• Daar is meer mense wat ’n verleentheid nie met ’n prestasie verwar nie. Te veel enersdenkendes wat anders wil doen of te veel andersdenkendes wat eenders wil wees?
Nuwe reëls
Die IK-toets, skoolrapport en Swapo-“pedigree” is in die meeste onlangse gevalle van die “jobs” vir pêlle en politieke kos-vir-werk-program deur die Swapo “five to twelve” en “Johnny-come-lately” Swapolidmaatskap-kaart en RDP-lidmaatskap vervals.
• Nou word die regte Swapo’s “has beens” en “Johnny-forgottens”.
• As ’n demokratiese toets om leiers binne die party en die Regering aan te wys nie meer suksesvol is nie, moet die Regering oorweeg om ’n poligraaftoets (leuenverklikker) verpligtend te maak tensy die owerheid bang is dat die poligraaf soos ’n Britse graafskap ook iets is wat gekoop kan word.
• “My lord”?
Eensame regverdiges
Diegene met ’n skoon rekord raak nou al meer as diegene met ’n skoon gewete en indien Kerneels homself nie misgis nie, is Swapo se sekretarisgeneraal, me. Pendukeni Iivula-Ithana, woedend en geïrriteerd met die “tenk wie se tienk” in die sand uitloop.
• Verlede jaar kondig me. Ithana met trompetgeskal aan dat sy ’n “tienk tenk” van die beste verstand en onbesproke lojaliteit uit Swapo se strukture aangestel het om aan die party ’n honderd persent meerderheid te besorg en seker te maak dat die party en sy strukture suiwer is van “hibernators” en “collaborators.”
Nou trek een “tienker” en Omusati-apologeet, ene Ntinda, teen twee ander “tienkers”, Kazenambo en //Gowaseb los.
• In ’n verbysterende onderskatting van die intelligensie van sy twee mededenkers, // Gowaseb en Kazenambo, en ’n ewe skouspelagtige oorskatting van sy eie intelligensie, bring Swapo se opwenpop, Asser Ntinda, sy kollegas in die openbaar en boonop onder beskerming van die partykoerant in die verleentheid.
Ntinda wat onder meer teen die Duitse stigting losgetrek deur wie sy voormalige baas, mnr. Hidipo Hamutenya, na ’n demokrasie-konferensie genooi was, vergeet dat hyself vir die grootste deel van sy loopbaan aan die propagandahalsband van mnr. Swapo-Hamutenya gelei was.
• Is dit hoekom hy vergeet het dat die seuntjie van die nasie, ene Uutoni Nujoma, ook deur dieselfde Duitse stigting na ’n konferensie genooi was.
• Wat se soort tienker is Ntinda dat hy dit nie geweet het nie of wil hy net niemand daarvan vertel het nie? Of was sy tenk so vol dat hy nie daaraan getienk het nie?
• Asser moet meer “Wasser” bygooi as daar ’n tier in sy tenk beland. Nou verstaan Kerneels hoekom die 100% steun nooit bereik is nie en hoekom die party in meer stukke skeur as wat daar kiesers op Okahandja is.
• Die veronderstelde denkers is van tafel en bed geskei? Mnr. Ntinda moet maar verduidelik of dit toevallig is dat mnre. //Gowaseb en Kazenambo nie van Omusati af kom nie of is dit maar in Swapo se Omusati-bloed om vriende en kamerade in die openbaar in die steek te laat?
• Sies, man! Mnre. Kazenambo en //Gowaseb kan bly wees Namibië is onafhanklik. Nie lank terug nie sou hulle in Lubango se gate beland het?
• Viva Namibia!
Wantrouekoors
Die uiteinde is dat mnr. Kazenambo weens Omusati-diskriminasie teen hom en Ntinda se Omusati-baas, mnr. Jerry Ekandjo, dreig om te bedank, maar glo omgepraat word om Swapo verdere verleentheid te spaar en mnr. //Gowaseb bedank as die waarnemende direkteur-generaal van die NBC en uit die direksies van die staatskoerant, New Era, en die mislukte Zimbab-wiese samewerkingsooreenkoms wat as die Southern Times al in Windhoek “behind the times” is.
• Dit kom daarvan as die “tienkers” in Swapo se “tenk” soos Van der Merwe wat nou eers vir pres. Zuma kwaad is omdat hy gehoor het dat Piet Retief in koning Dingaan se kraal dood is.
Die verkiesings is verby en Swapo het weens sy tienkers van verdeeldheid nie die honderd persent meerderheid gekry nie, maar is intussen ook nie honderd persent seker wie die direkteur van Verkiesings is nie, mnr. Uadjarakana of mnr. Elago?
• Dit is honderd persent seker dat die uitslag daarvan na byna twee maande glad nie seker is nie en dat die party se leierskap van faksies so verdeeld soos nooit tevore is, terwyl die agterdog op Okahandja oor kandidate en kieserlyste aanrol en van elke Swapo-mishoop ’n nasionale berg gebou moet word.
Betaal Swapo se leierskap nou hul aangestelde politieke miskruiers ook oortyd?
Kaaronda-truuks
Swapo-faksies en politieke “loafers” se skynheiligheid word net deur die vakbond, NUNW, se “running dog”, Eva Kaaronda, oortref.
• Met die tragiese dood van die Swapo-veteraan en Swapo-verwerpte, mnr. Ponhele ya France, prys mnr. Kaaronda sy bydrae. As vakbondleier het die einste NUNW mnr. Ya France egter liederlik in die steek gelaat toe hy skandalig en sonder seremonie deur die minister van komplotte en propaganda, mnr. Joël Kaapanda, as ’n RDP-“hibernator” uit die NBC geskop is.
• Ly Kaaronda en Ntinda aan dieselfde siekte?
Nasionale driespalt
Op Okahandja staan drie Swapo’s teen mekaar in ’n tussenverkiesing wat klaar omstrede is weens ’n kieserslys, terwyl die vorige kieserslys nog in die howe ronddwaal.
Kiesers van Okahandja kan nou kies tussen ’n Swapo-kandidaat van onmin, ’n Swapo-RDP en ’n Swapo-“Independent”.
• Dit is nie die opposisie se handewerk nie, maar Swapo-binnegevegte s’n.
Die ou Kalahari
Die opposisie moet met verlof gaan. Hulle kan nie ’n beter “job” doen om Swapo te vernietig as wat interne jaloesie en onbeheerste magshonger so suksesvol regkry nie.
• Die RDP moet hulle naam sommer na Swapo verander. Kerneels draai nie by Swapo se Auasbergepadblokkade op die Reboboth-pad rond en hou polisiemanne uit die werk nie. Hy is ook ’n aap, maar nie een met ’n goue ring en viskonsessie nie, maar ’n ou aap.
• So seker as wat Namibië onafhanklik is -- ten spyte van leiers wat vir hul voortbestaan van politiek afhanklik is – so seker sal twee Swapo’s teen een van die Swapo-kandidate op die dorp verloor. Die uitslag is irrelevant en Swapo mors sy geld en asem deur Namibiërs te oortuig dat hulle vir die Swapo-kandidaat moet stem.
• Vir watter een? Swapo se RDP-kandidaat, Swapo se onafhanklike kandidaat of Swapo se vensteruitsalling om die mense van Kunene en Erongo na sy kraal te lok nadat sy eie stemvee die mure gebreek het en by ander partye se koeie kuier.
• Swapo het in die vorige verkiesings een kandidaat gehad en het nou drie op dieselfde dorp. Wiskunde vertel vir Kerneels dat Swapo se opposisiekandidate uit eie geledere reeds ’n tweederdemeerderheid van verdeeldheid is.
• Swapo moet nou net self “uitfigure” wat dit bedoel.
Kerneels sal help
• Al wen Swapo se kandidaat is daar steeds twee ander Swapo’s wat die party van hul geboorte verwerp. Kerneels ken nou nie eintlik mnr. Booys se “pedigree” nie, behalwe dat hy nie dieselfde een as die ander twee Swapo’s het nie.
• Is hy nie eintlik ’n Lovemore van Bukhalo in die Caprivi nie?
Hy lyk en klink so?