|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Kollig 18 MeiSuiderland 15 MeiDie Weer
|
11.03.2010 Groen lig vir belasting-blaaskans
GOEIE nuus vir Namibië se belastingbetalers is dat die Minister van Finansies uiteindelik gister, byna ’n jaar ná dit in die Nasionale Begroting in die vooruitsig gestel is, ’n wetsontwerp ter tafel gelê het om wysigings aan die wet op inkomstebelasting ’n werklikheid te maak.
Terselfdertyd het sy ’n wysigingswetsontwerp op Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) ter tafel gelê. Volgens dié wetsontwerp sal ’n zero-heffing van BTW op stapelvoedselsoorte en dienste soos droë wit- en bruinsuiker en klam bruinsuiker; vars melk; mediese en paramediese dienste en dienste van begrafnisondernemers voortaan van krag wees. In die kort debat oor die wysigingswetsontwerp het die Minister van Presidensiële Sake, dr. Albert Kawana, gesê hy is baie teleurgesteld met sakeondernemings. Terwyl die Regering probeer om die lot van die armes te verlig deur ’n zerobelastingheffing te plaas, verhoog sakeondernemings hul pryse. “Die Regering het sy deel gedoen en ons verwag van sakeondernemings om ons halfpad tegemoet te kom. Indien nie, sal ons stappe doen om te verseker dat die armes en gemarginaliseerdes beskerm word,” het hy gesê. Hy het die hoop uitgespreek, dat anders as in die verlede toe zero-heffings op sekere kossoorte aangekondig is, sakeondernemings sal toesien dat pryse nie styg nie en dat verbruikers werklike voordeel uit die belastingverligting put. Wat die wysiginswetsontwerp op inkomstebelasting betref, sal diegene wat uitdienstredingspakette moet aanvaar, voortaan vrygestel wees van belasting op ’n bedrag van N$300 000 teenoor die N$100 000 wat die wet nou bepaal. Die bedrag wat as enkelbedrag uit ’n pensioenuitbetaling, bewaringsfonds af aftree-annuïteit belastingvry onttrek kan word, is van N$20 000 tot N$50 000 verhoog. Mynmaatskappye word ook vrygestel van belasting op rehabilitasie- uitgawes en die belasting wat nie-mynmaatskappye betaal, is van 35 persent tot 34 persent verminder. Die belastingdrempel vir individue is vanaf 1 Maart verlede jaar van N$36 000 na N$40 000 verhoog, wat meebring dat diegene wat minder as N$40 000 ’n jaar verdien, vrygestel is van belasting. Superbelasting van 37 persent is ingestel vir individue wat meer as N$750 000 per jaar verdien. Die basisbedrag wat hulle moet betaal, is N$236 200. Diegene wat tussen N$40 000 en N$80 000 verdien, betaal nou 27 persent belasting, dié wat tussen N$80 000 en N$200 000 verdien, word teen 32 persent belas met ’n basislyn van N$10 800. Dié wat tussen N$200 000 en N$750 000 verdien, word belas teen 34 persent met ’n basisbedrag van N$49 200. Min. Saara Kuugongelwa-Amadhila het in haar motivering van die wetsontwerp gesê die Regering is gekritiseer oor die vertraging met die implementering van die wysigings. Sy sê die wysigings, al sou sy dit graag vroeër wou laat aanvaar het, sal eers vanaf 2010 in werking tree, met die uitsondering van die wysiging van die belastingdrempel en belastingvlakke vir persoonlike inkomste wat reeds in 2009 in werking getree het. Sy het gesê dit is ’n saak van dringendheid dat die wysigings so gou as moontlik deur die Nasionale Vergadering aanvaar word. Die vertraging is vanweë die proses waarvolgens die wetsontwerpe eers aan die kabinetskomitee belas met wetgewing voorgelê moes word, toe teruggestuur is na die wetsopstellers en toe dit gereed was vir ter tafellegging, weer aan die kabinetskomitee voorgelê moes word. |