Dr. Ridwan Mia, die nederige leermeester

Elvira Hattingh - Sonder enige eiewaan beduie die wêreldbekende chirug vir my om eerste koffie te kry en dra toe die skinkbord self terug kombuis toe. Hy is onberispelik in sy netjiese swart pak geklee en baie beskeie vir die enigste dokter ooit in Afrika wat twee geslaagde velkloning-operasies uitgevoer het.
Hy het nie geweet wat op hom wag toe hy die dag by die hospitaal opdaag om die lang verwagte veloorplanting op Pippie Kruger uit te voer nie. Die Netcare Garden City Hospitaal in Johannesburg was omring deur die media en joernaliste. CNN-en BBC-bussies met satellietsenders op hul dakke het gereed gestaan.
“Ek het gewonder wat aangaan, maar dit was eers toe ek 'n ent weg op pad na die ingang van die hospitaal was, dat ek tot die besef gekom het: hulle is hier vir die operasie op Pippie.”
Ons ontmoet Maandagoggend in sy gasheer, dr. Willem Moore se huis, net voor hy die aand as 'n gasspreker by die Bank Windhoek Sokratiese Forum moet optree. Die tema vir sy praatjie was pa­siënt-gesentreerde medisyne.
Hy kan nie uitgepraat raak oor die vriendelikheid wat hy in Namibië ervaar nie. “Dis die eerste keer dat ek hier kom. Namibië is pragtig. Ek het vandag nog nie 'n enkele onvriendelike persoon teë­gekom nie. ’n Ieder en ’n elk straal hartlike warmte uit.”
Sonder enige eiewaan beduie die wêreldbekende chirug van Johannesburg vir my om eerste koffie te kry en dra toe die skinkbord self terug kombuis toe. Hy is onberispelik in sy netjiese swart pak geklee en baie beskeie, vir die enigste dokter ooit in Afrika wat twee velkloning-operasies uitgevoer het.
Behalwe vir Pippie het hy in April vanjaar dieselfde soort operasie op 'n vyfjarige brandslagoffer, Celiwe Maseko, uitgevoer.
Die operasie op Pippie in Junie verlede jaar was die eerste van sy soort om ooit in Afrika plaas te vind en oë van oral in die wêreld was op dr. Mia gerig. Volgens hom is sulke operasies al tevore in Europa en Amerika uitgevoer.
Pippie het derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen toe 'n bottel met 'n vuuraansteekmiddel in haar pa se hande tydens 'n gesinsbraai op Oujaarsaand in 2011 ontplof het. Ondanks dokters se verwagtinge het sy dié voorval oorleef.
'n Pediater het dr. Ridwan Mia drie-uur in die nag gebel om te hoor of hy bereid sou wees om 'n tweejarige dogtertjie te help wat kwaai verbrand het.
Pippie se brandwonde is opgedoen toe 'n houer met jel om 'n vuur aan te steek, ontplof het terwyl haar pa op Oujaarsaand by hul huis is Lephalale (voorheen Ellisras) in Suid-Afrika se Limpopo-provinsie vleis gebraai het. Mia het ingestem en het Pippie reeds die volgende dag ondersoek.
“Die pediater het gereken sy het 70% derdegraadse brandwonde oor haar lyfie opgedoen. Die aanname onder plastiese en rekonstruktiewe chirurge is dat pediaters gewoonlik brandwonde oorskat. In Pippie se geval het ek egter gevind dat sy tot 80% derdegraadse brandwonde opgedoen het.
“Ons het twee stukkies gesonde vel van so 2 cm by 6 cm geneem - die een stukkie van die onderkant van haar maag en die ander aan die binnekant van haar bobeen. Die vel is toe na die Genzyme-laboratorium in Boston, Amerika gestuur om meer vel te kloon.”
In Junie 2012, toe Pippie al drie jaar oud was, is 41 stukkies van dié gekloonde vel terug na Suid-Afrika gevlieg en op haar rug, gesig, bors, arms en bene oorgeplant. Die operasie is teen tyd uitgevoer omdat die gekloonde vel net 'n raklewe van 24 uur het - wat die 21-uur vlug vanaf Amerika insluit.
Mia sou egter nooit kon raai dat dié operasie soveel aandag sou uitlok nie.
“Die hospitaalbestuurder het my gevra of ek mediadekking vir dié prosedure sou toelaat. Hy het gesê die Netcare Garden City Hospitaal en die maatskappy wat Pippie se vel na Suid-Afrika vlieg, sal graag 'n bietjie publisiteit wou hê.
“Ek het 'n klein eenkolomstorie op bladsy 6 van 'n koerant verwag. Die hospitaalbestuurder het egter gesê ek verstaan verkeerd, ek moet klaarmaak waarmee ek besig was en hom kom sien.
“Dis toe dat hy vir my verduidelik dat die media en televisiekanale tydens die operasie teenwoordig wil wees. Ek het gesê dit hang van Pippie se ouers af of hulle dit sal toelaat.
“Die media was ongelooflik bedagsaam en behulpsaam tydens die hele proses. Niemand het ooit hul grense oorskry nie en as hulle vrae tydens die operasie gevra het, was dit omdat hulle werklik omgegee het en besorg was oor klein Pippie.
“Dit was ware verantwoordelike verslaggewing.”
Oor hoe dit voel om dié baanbrekerswerk te lei, is hy nederig.
“Vir my het dit net daaroor gegaan dat ons eindelik 'n oplossing vir klein Pippie kon vind. Voor dié tipe tegnologie be­skikbaar was, was daar nie baie wat ons kon doen vir brandslagoffers wat so erg gebrand het nie. Nou is ons 'n opsie gegee. Ons was desperaat vir 'n oplossing.
“Dit was goed om deel van die ervaring te wees. Dit het my nederig, sterker en trots gemaak.”

Maak 'n verskil
Hy glo mense moet 'n verskil maak.
“Dit gaan daaroor om 'n verskil in menselewens te maak. Om iets in 'n beter toestand agter te laat as waarin jy dit gekry het. Jy sal verdwaas wees oor hoe veelvoudig dit na jou terugkom en hoeveel welwillendheid dit teenoor jou skep.
“Ek moedig jongmense altyd aan om hul drome te volg. Diegene wat in kriminele aktiwiteite en drank verval, het net fokus en visie van hul drome verloor. Hulle het verdwaal en dis ouers se plig om hulle op die paadjie te probeer hou.
“Die Koran het 'n sêding van 'die beste mense onder julle is dié wat die meeste voordeel vir die res van die mensdom bring'. Dis my lewensleuse.”
“My studente by die Wits Universiteit waar ek klas gee, vra altyd hoe ek dit reggekry het om 'n plastiese chirurg te word. 'Dit neem so lank.' Dan sê ek vir hulle jy moet die reis daarheen geniet - dis waaroor dit gaan.”
Hy het plastiese en rekonstruktiewe chirurgie gekies omdat dit meer gevorderd is en hy glo hy kan daarmee 'n verskil vir baie mense maak.
Bykomend tot estetiese chirurgie, doen hy ook handchirurgie, post-kanker rekonstruktiewe chirurgie, gesplete lip- en verhemelte chirurgie en die behandeling van brandwonde.
“Jou hande vertel soveel van jou, soos watter tipe werk jy doen. Selfs al is jy 'n huisvrou, beperk dit jou baie as jy die gebruik daarvan verloor. Ek doen ook baie rekonstruksie vir kankerlyers.
“As jy byvoorbeeld velkanker het wat uitgesny word, doen ek veloorplantings. In die afgelope paar jaar het rook tot vele soorte kanker gelei en het ek veral rekonstruktiewe werk aan mense se monde of gesigte gedoen. In die geval van borskanker het ek gehelp om vir vroue weer borste te skep. “'n Vrou koppel soveel van haar vrouwees aan haar borste en veral ná die trauma van kanker kan rekonstruktiewe chirurgie help om weer vir haar iets van haar vroulikheid terug te gee.
“Ook vir mense met gesplete verhemeltes is dit belangrik om 'n normale lewe te kan lei. Dit is 'n probleem waarmee ek kan help sodat hulle nie beperk moet wees as hulle eet of praat nie. Ek doen ook rekonstruktiewe chirurgie om mense te help loop.”

Pippie se verhaal gryp die wêreld aan
In Januarie 2011 verskyn 'n berig op Nuus24 van 'n tweejarige meisie van Lephalale (Ellisras) wat 80% derdegraadse brandwonde oor haar hele lyf opgedoen het toe 'n bottel met 'n vuuraansteekmiddel in haar pa se hande ontplof het. Die fratsongeluk het Oujaarsaand kort voor sewe-uur gebeur.
Klein Isabella het in die tuin gespeel, sowat twee meter van waar haar pa gestaan het. Die slag van die ontploffing was so erg dat die vlamme tot by Isabella “uitgebol” het.
Die meisie was in 'n bedenklike, maar bestendige toestand in die brandeenheid van die Garden City-kliniek in Johannesburg.
Dokters was bekommerd dat die jong meisie nie die voorval sou oorleef nie. Sommiges het gereken sy het net 'n 10% kans op lewe. Sy het egter wel die voorval oorleef en boonop geskiedenis gemaak toe sy die eerste mens in Afrika word op wie 'n veloorplanting van gekloonde vel gedoen is.
Dié gebeurtenis het groot opslae in die media gemaak met mense oral in die wêreld wat die verhaal gevolg het. Pippie se operasie was suksesvol en sy het gou begin herstel.
Ná sewe maande is sy eindelik uit die Garden City-hospitaal in Johannesburg ontslaan en na die Netcare-rehabilitasiesentrum in Auckland Park verskuif waar sy intensiewe spraak- en loopterapie ontvang het. Pippie is intussen weer tuis en haar ma het die “Pippie se Gesiggie-fonds” gestig om ander kinderbrandslagoffers te help.

'n Indrukwekkende CV

Dr. Ridwan Mia het bekend geword nadat hy die eerste in sy soort vel­oorplanting op die driejarige Pippie Kruger verlede jaar in Johannesburg gedoen het.
Hy het wêreldwyd opslae gemaak vir die baanbrekerswerk waartydens gekloonde vel oorgeplant is om haar brandwonde mee te bedek.
Mia het aan die Marist Brothers' Sacred Heart College gematrikuleer en in 1999 as dokter aan die Universiteit van Witwatersrand gekwalifiseer. Hy spesialiseer in plastiese en rekonstruktiewe chirurgie aan dieselfde universiteit en hou 'n fellowship by die Kollege vir Plastiese Chirurge van Suid-Afrika.
Hy is 'n lid van die Vereniging vir Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurge van Suid-Afrika en was die wenner van die beste navorsing­skrif by die kongres van plastiese chirurge vir navorsing oor kollageen en wondheling. Hy was ook 'n pryswenner by die Burt Myburgh Chirurgiese Navorsingsforum van die Wits Universiteit.
Mia is tans 'n konsultant by Wits Universiteit se mediese skool en onderrig plastiese snykunde.
Hy het ook 'n private praktyk by die Sunninghill-hospitaal en die Sandton MediClinic.
Bykomend tot estetiese chirurgie, is hy ook betrokke in handchirurgie, post-kanker rekonstruktiewe chirurgie, gesplete lip- en verhemelte chirurgie en die behandeling van brandwonde.
Mia is 'n trustee van die Burns Charity Children of Fire en 'n aktiewe lid van die Smile Stigting wat op jong kinders opereer wie se gesigte en hande misvorm is.
Hy lewer ook gereeld lesings en praatjies aan korporatiewe, maat­skaplike en beroepsleidingsgroepe, insluitend skole en universiteite oor lewenservaringe, motivering en maatskaplike en gesondheidskwessies in Suid-Afrika.

Kategorie: