19.08.2010 Wilddiewe in Namib aangekeer
‘n AGTERVOLGING in die maanlig het drie vermeende wilddiewe hulle feitlik self laat vang toe hul voortsnellende motor Dinsdagaand op ‘n grensplaas aan die Namib oos van Swakopmund gerol het.
Hul gevolglike inhegtenisneming kan ‘n einde maak aan ‘n wildstropery wat die betrokke gemeenskap nou al oor ‘n baie lang tydperk teister. Die drie mans wat op die plaas Ruimte in die distrik Karibib in hegtenis geneem is, is van Swakopmund.
Die voertuig waarmee hulle probeer wegkom het, het Walvisbaaise registrasiemerke. Op die ongelukstoneel het hulle net die name Bennie, Derick en George aan hul agtervolgers verstrek. Gister is hul volle identiteite vasgestel as Bennet Dauseb, Robert Maletzki en Derick Brockerhoff. Hulle is blykbaar almal van Swakopmund. Brockerhoff is in die staatshospitaal op Swakopmund opgeneem met ernstige ribbeserings en ‘n gebreekte sleutelbeen.
Die ander twee mans is deur die polisie in hegtenis geneem en het gister nog op hul eerste verskynings gewag. Die voorval en ongeluk is deur ‘n boer van Ruimte, mnr. Rinus van der Merwe, by die Walvisbaaise polisie aangemeld. ‘n Ambulanswa is van Walvisbaai na die toneel gestuur en die beseerde Brockerhoff en die twee mans is almal in die ambulanswa weggebring.
Die polisie, bygestaan deur natuurbewaarders van Ganab in die Namib en boere van die gemeenskap, was gister nog met ‘n opvolgondersoek op die plaas Ruimte besig. Hulle het op twee gemsbokke afgekom. Die een het ‘n kop- en die ander ‘n nekskoot weggehad.
Die optrede van die wilddiewe stem ooreen met die slagplekke en reste van wild waarop boere oor ‘n baie lang tydperk in die omgewing afgekom het. Die wild word geskiet, waarna die koppe en die binnegoed uitgehaal word.
Die koppe en ingewande van die diere word dan ‘n ent van die karkasse weggesmyt. ‘n Vermoede bestaan lankal dat die wild geskiet, geslag en dan in die veld gelaat word om later dieselfde nag op die plek gelaai te word. Die toerusting op die voertuig wat gerol het, getuig van ‘n jagtersgroep wat toegerus was.
Beslag is op ‘n .270-geweer met ‘n knaldemper en ‘n teleskoop gelê. Drie doppies en ‘n paar koeëls is gekry. ‘n Handsoeklig met koppeling aan die motorbattery is gevind. Die voertuig was ook toegerus met vleishakke, duur hysapparaat vir die laai van swaar karkasse, jagtersmesse en ystersae vir die sny van die borsbeen van wild, swart seile vir die bedekking van die prooi en ruilstewels om van bloedbevlekte skoeisel by die slagplek ontslae te raak.
Mnr. Rinus van der Merwe het gister in ‘n gesprek met Republikein gesê hy het omstreeks halfnege Dinsdagaand ‘n oproep van ‘n span draadspanners op die plaas gekry met beweringe van ‘n voertuig met verdagte bewegings op die pad.
Hy het gery en om ‘n berg se punt ‘n voertuig voor hom gesien. Hy het radiokontak met sy pa, mnr. Paul van der Merwe, van ‘n buurplaas gemaak en hom gevra om uit ‘n teenoorgestelde rigting die vermeende stropers tegemoet te ry. Dit was ‘n maanligaand en hulle het nie hul motorligte aangeskakel nie, omdat dit as waarskuwing vir die diewe sou dien.
Mnr. Rinus van der Merwe het die bende se motor van agter tegemoet gery. Geen ag is op sy waarskuwende ligte geslaan nie en die Walvisbaai voertuig het al hoe vinniger gery namate hy hulle ingehaal het. Wou hy hulle regs verbysteek, het hulle regs gehou. Wou hy hulle links verbygaan, het hulle links gery.
Hulle het ook nie ag op mnr. Paul van der Merwe se ligte op die pad geslaan nie. Toe het hul voertuig gerol. ‘n Flitslig is op die ongelukstoneel gebruik. Een van die mans het uitgeklim en nog een het ook rondgestaan. Een van die mans, vermoedelik Brockerhoff, het ernstige beserings opgedoen. Een van die ander twee het voorgekom soos iemand wat skok opgedoen het en daar is gesukkel om ‘n gesprek met hulle te voer.
Volgens hom het die ganse jaagtog nie langer as ‘n halfuur geduur nie.
Om 21:45 is die oproep gemaak om die ambulansdiens van Walvisbaai te ontbied.
|