23.07.2008 Waarskuwing kom teen rooigety
MOONTLIKHEDE van ‘n vroeë waarskuwingstelsel teen ramptoestande op see soos tydens die rooigety vroeër vanjaar, kan ontwikkel word danksy samewerking tussen die ZMT (Zentrum für Marine Tropenölogie) van Duitsland en die Universiteit van Namibië. Dit kan ook die Namibiese oesterbedryf red wat deur ondergang bedreig word ná die uitbarstings op see vanjaar in Maart.
Die ontsaglike roesprobleem van Namibië se dorpe langs die sentrale kusgebied kan ook ‘n studieveld word, volgens ‘n verklaring deur die ambassadeur van Duitsland in Windhoek. Daarvolgens is die vragte Namib-sand wat in die see beland nog nie behoorlik nagevors nie. Tydens twee rooigety-uitbarstings binne dae in Maart is feitlik die ganse oesterbedryf verwoes.
Volgens van die ramings het die onmiddellike skade sowat N$50 miljoen beloop. Dit kan maande duur voordat die oesterbedryf weer winsgewend bedryf kan word. Tonne kreef het in die tydperke uit die water gestap met net ‘n klein persentasie wat in tenks by die akwarium op Swakopmund vir latere terugplasing in normale seewater gered kon word.
Die waarskuwingstelsel gaan daarop gerig wees om die oesterbedryf vroegtydig oor verwagte rooigetytoestande in te lig. Sodoende sal oesters vroegtydig uit die water gehaal word om later teruggeplaas te word. Die uitbarstings gaan gepaard met ‘n daling van die suurstofinhoud van die water. Navorsing gaan ook gedoen word oor hoe oesters tydens lae suurstofvlakke kan oorleef.
Sanderosie deur die Namib in die see kan moontlik deur die regte plante in die kusgebiede aan bande gelê word. Volgens die verklaring van die ambassade kan dit gedoen word met plante wat teen sout bestand is. Die samewerkingsooreenkoms maak voorsiening vir die opleiding van personeel by die Universiteit van Namibië.
In so ‘n program sal Duitse kundigheid ook met Namibiërs gedeel word. ‘n Stelsel van uitruilstudente kan ook in werking gestel word. Die samewerkingsooreenkoms spruit uit ‘n besoek wat Namibiese studente vanjaar in Junie aan die ZTM in Bremen gebring het. Dit het op ‘n besoek deur Duitse wetenskaplikes vanjaar in Februarie aan Namibië gevolg.
Die Duitse wetenskaplikes het toe al aangedui dat hulle belang stel in ‘n langtermyn-ooreenkoms vir navorsing van die woestyn en ekologiese stelsels van die kusgebiede. Die visekanselier van Unam, dr. Osmund Mwandemele, en die direkteur van Unam se navorsingsentrum op Hentiesbaai, dr. Lawrence Olellermann, het aan die gesprekke deelgeneem.
|