
Mnr. Joseph Jantze
‘n DAG gaan kom wanneer die Usakos/Karibib-gebied een groot metropool kan word. Dit gaan ‘n groot en voorspoedige gemeenskap wees met die mynwese as die groot stut van die ekonomie. Die man met die droom is die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit van Usakos, mnr. Joseph Jantze. Sy visioen is met rede.
In die Namib is daar die opkoms van die uraanmynwese wat feitlik by die dag nader aan Usakos kruip. In die Karibib-geweste skuif die goue draad van Navachab weswaarts na Usakos. Die gesprek met mnr. Jantze is op ‘n straathoek gevoer, want as stadsklerk moet hy deesdae spring. Op Usakos word voorberei op die bou van nog seshonderd huise met die eerste 250 wat haas ‘n uitgemaakte saak is.
Die eerste 250 erwe moet vir huise gehou word met die koms van die maatskappy wat die fisiese mynery vir die uraanreus Uramin gaan doen. Alles is blykbaar gereed en die finale kontrak moet net onderteken word. Die stadsraad het reeds die aanwending van twee lappe grond vir seshonderd erwe gegee. Dit sal in gelyke maat elkeen driehonderd erwe lewer.
Die een blok is agter die sogenaamde bo-dorp en die ander op die plek waar die tradisionele swart dorp eens was. Benewens die koms van die myners van Uramin het gesprekke ook met die myngroep Valencia begin. Soos vir Uramin is ‘n lisensie vir ‘n uraanmyn deur die Ministerie van Myne en Energie aan Valencia toegeken. Verkennende gesprekke is ook met ‘n mynmaatskappy van China gevoer wat in beheer is van die eksplorasie vir uraan in die omgewing van die nabygeleë Spitzkoppe.
Aan die buitewyke van Usakos het gesprekke ook begin vir die inskakeling van ‘n gebied van 40 hektaar by die munisipale gebied van Usakos. Groter lappe grond van tussen 2 en 3 hektaar gaan hier uitgemeet word, sou die onderhandelinge slaag. Op Usakos is ‘n nuwe dorpsplan reeds deur die stadsraad goedgekeur. Die planne gaan nou aan die groter dorpsbeplanners van Namibië voorgelê word. Konsultante is terselfdertyd feitlik voltyds besig met die beplanning van ‘n groter Usakos.