24.07.2008
Visfees se toegangsgeld in vaarwater
‘n GEKIBBEL om toegangsgeld wat vanjaar vir Visfeesgangangers op Hentiesbaai gevra gaan word, is bygelê toe op ‘n enkele tarief vir bywoning van die byeenkoms asook die optredes deur besoekende kunstenaars gevra gaan word. ‘n Oplossing is blykbaar ook gevind vir ‘n beweerde gebrek aan parkeerruimte in Die Mond waar die Visfees tussen die Noord- en die Suidduin gehou gaan word.
Die Visfeeskomitee het op N$100 toegangsgeld vir ‘n volwassene besluit. Vir senior burgers en kinders onder 12 is dit N$50. By die bedrae is toegang tot die terrein en al die feestelikhede van die twee dae ingesluit. Daarvoor sal besoekers al die verrigtinge in die dagtent, die dansparty van die Vrydagaand en die twee besoekende kunstenaars uit Suid-Afrika die Saterdagaand kan bywoon.
Uitsonderings sal nie gemaak word nie en sou besoekers net ‘n enkele dag of deel van ‘n dag ‘n Visfeesganger wil wees, sal die toegangsgeld steeds die voorgeskrewe N$100 en N$50 wees. Die parkeergebied om die Visfeesterrein sal ook aansienlik groter wees as wat aanvanklik gemeen is. Volgens een bron sal daar selfs meer parkeerplekke wees as toe die Visfees in die middedorp aangebied is.
‘n Visfees in die middel van Hentiesbaai sal vanjaar in elk geval nie moontlik wees nie. Die hoofstraat word geteer met gevolglike uitgrawings en sluitings van die straat. Besoekers aan Hentiesbaai sal die wegwysers moet volg. Die kunstenaars wat op Hentiesbaai gaan optree, is Final Chapter (dansmusiek Vrydagaand, 22 Augustus), Arno Jordaan en Jakkie Louw van Suid- Afrika (Saterdagaand in die feestent) en Jo Nichol as aanbieder van die verrigtinge Vrydag en Saterdag. Al die braaikraampies sal buite die tent op die feesterrein wees, met die ander wat sake in die feestent sal doen.