17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

22.02.2012

Verset teen Mad Max-verfilming bou op

© Anneli Erasmus
So vorm rye mense elke dag voor die ou munisipale gebou van Swakopmund. Almal soek tydelike werk as byspelers of gewone werkers by die vervaardigers van Mad Max.

KOM die skrikkeljaar op 29 Februarie gaan Mad Max bots. Windhoek gaan die strydperk wees, nie die Namib se Dorobpark waar die Australiese rolprentmaatskappy met voorbereidingswerk vir Mad Max 4 besig is nie.

Die verset teen die verfilming van die rolprent met sy 130 kragtige vuurwaens en 298 toertjies deur waaghalse gaan hoofsaaklik deur toerisme-instansies gevoer word met voornemens om dit tot op ministeriële vlak te voer. Die toerisme- instansies se eerste aanslag is reeds afgeweer toe die Ministerie van die Omgewing en Toerisme nie toegegee het aan eise dat ’n omgewingstudie uitgevoer moet word voordat met die verfilming van Mad Max 4 begin word nie.

Waaroor nou onderhandel word, is die daarstelling van ’n waghondinstansie om seker te maak dat die rolprentmakers nie met die woestyn gaan mors nie. Gister is op Swakopmund vasgestel dat drie woestynvelde vir die maak van die rolprent gebruik gaan word – een in die omgewing van Kruiskaap langs die noordkus, een in die nabyheid van die oase Goanikontes naby Swakopmund en die derde stel agter die duinegordel tussen Swakopmund en Walvisbaai.

Die voorsitter van die Kustoerismevereniging van Namibië (CTAN), mnr. Pieter van Ginkel, het laat gistermiddag bevestig dat Mad Max op die sakelys van ’n CTAN-vergadering is wat juis in daardie stadium gehou was. “Ons weet bitter min van Mad Max se planne. Ek het ’n gesprek met die eerste verteenwoordigers van Mad Max gevoer, maar hulle is stram om inligting te verstrek.”

Volgens hom is toerisme-instansies langs die kus glad nie geken toe die Ministerie van die Omgewing en Toerisme goedkeuring vir Mad Max gegee het nie. Daar is ook vasgestel dat verkenningswerk vir die koms van Mad Max reeds in 2003 gedoen is, maar dat die fliekmakers glo toe geweier is. Hieroor het mnr. Van Ginkel gesê die prentjie het verander met die proklamasie van die Dorobpark. “Ons is nie teen Mad Max nie, maar wel teen die hoe van Mad Max.”

Volgens hom was die oorspronklike plan om Mad Max in Australië te maak, maar te veel reën het die fliekmakers na Namibië laat uitwyk.

Hy het ook die hoop uitgespreek dat meer inligting beskikbaar sal word wanneer hy Vrydag weer met die Mad Max-manne gesels. “In die stadium is dit nog baie vroeg. Die produksieleier is nog nie eens hier nie.”

Intussen het openbare verset op Swakopmund teen die koms van Mad Max ingetree. Dit wentel om ’n gebrek aan ablusiegeriewe vir ’n lang ry mense wat elke dag voor die ou munisipale gebou vorm. Al die mense wag om te hoor of hulle as byspelers deur die rolprentspan opgeneem gaan word of tydelike werk by die fliekmakers gaan kry. Dit word deur die protesteerders as rede vir ’n stank naby Swakopmund se sentrale sakegebied aangevoer. Die werklike rede vir die stank is die gesuiwerde rioolwater wat vir tuinerye in die omgewing gebruik word.

Selfs die toerusting vir Mad Max word afgekraak. Een daarvan is ’n 6 x 6-voertuig met ’n Mercedes Benz-masjien wat glo reeds op Walvisbaai aangekom het.