
Veertien beraders het hul opleiding op Arandis voltooi om in die gemeenskap op te tree in ‘n program wat onder die vaandel Vry om te Groei (“ Free to Grow”) sal vaar. Die projek is op Arandis geloods en die doel is om inwoners van Arandis op te lei in die hantering van hul huishoudelike begrotings en om hul individuele kundighede te bepaal. Die kursus is gesamentlik deur die Volhoubare Ontwikkelingsprojek, die stadsraad van Arandis en die Rössing Stigting aangepak. Elkeen van die beraders beskik oor ‘n sertifikaat waarmee hulle hulle in hul werkprogram kan identifiseer. Die opleidingsprogram het met tussenposes oor ‘n tydperk van drie maande gestrek. Ná die loodsing van die program sal vordering gemonitor word wat in die gemeenskap gemaak word. Op die foto tydens die loodsing van Vry om te Groei staan die beraders in hul T-hempies. Elkeen beskik ook oor ‘n volledige mobiele blaaibord wat as hulpmiddels tydens opleidingsessies gebruik sal word. Voor sit van links Isabella Kavendjii, Jenny Howoses, hoof van finansies by die munisipaliteit, en Manfred Murangi.