17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

27.08.2010

Usakos word kwaad oor dienste

© Jacques du Toit
Rommelhope soos hierdie voor die Ministerie van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur se kantore op Usakos kan oral op die dorp aangetref word. ’n Werker by die Ministerie se kantore sę sy dink die toestande op die dorp is taamlik goed. Ander inwoners het weer genoeg gehad. Van hulle oorweeg dit selfs om weg te trek.

’n SKOON Usakos met behoorlike munisipale dienste het ’n geskilpunt op die dorp geword. Lede van die gemeenskap meen die munisipaliteit doen nie genoeg op die gebied van dienslewering nie. Dit gaan oor watervoorsiening, rommelverwydering, rioolherstelwerk en algemene opknappingswerk. Die munisipaliteit het gereageer met ’n standpunt dat die owerheid sy bes doen.

ʼn Deel van die dorp wat vanaf 12 tot 16 Augustus sonder water was, was die laaste strooi vir van die inwoners.

“Dit gebeur al sedert verlede jaar dat ons gereeld sonder water moet klaarkom,” sę me. Gertie Venter van Usakos. Sy en ander lede van die gemeenskap het op ʼn vergadering ’n plan van aksie bespreek. Hulle het besluit om nie meer erf- en waterbelasting te betaal nie. Sou die munisipaliteit nie aandag aan die probleme gee nie, gaan hulle al die vullis op die dorp bymekaarmaak en dit op die munisipaliteit se erf neersmyt.

Usakos se stadsklerk, mnr. Joseph Jantze, het sy teleurstelling teenoor die gemeenskap uitgespreek omdat hulle die probleem met die media opgeneem het. Hy sę die watertekort is buite die munisipaliteit se beheer. Wanneer die wind erg waai, kan ʼn kragonderbreking voorkom. Dit kan weer die waterpomp se kragtoevoer onderbreek. Wanneer die masjien weer aangeskakel word, breek dit die ysterpype omdat die stroom te sterk is.

“Ons het tot laat in die aande gesukkel om die masjien weer aan die gang te kry, maar die gemeenskap waardeer nie die moeite wat ons doen nie. Ons kry ewe swaar wanneer die waternood ontstaan.”

Hy sę die munisipaliteit het nuwe, sterker pype geïnstalleer en hoop dat die probleem nou opgelos is.

Me. Venter sę hulle het gereeld hul klagtes by die munisipaliteit probeer opper, maar daar is feitlik niemand ooit beskikbaar nie. “Wanneer daar ʼn krisis is, is almal op verlof,” sę sy in ’n brief aan die Republikein.

Op dieselfde trant praat sy oor die straatskoonmakers wat nie hul werk doen nie. “Kom kyk ’n bietjie hoe vuil is hierdie dorp. Die plek is erger as ’n varkhok. Die skoonmakers werk net tot 10:30, gaan dan vir middagete en dan sien jy hulle nie weer nie.”

Mnr. Jantze sę die munisipaliteit doen sy bes om die dorp skoon te hou, maar sekere lede van die gemeenskap bly net mors. “Ons tel die rommel op, maar wanneer die vullisvragmotor wegry, word die vullis net weer gestrooi. Die gemeenskap moet vir ons kom sę wie dit is wat so mors. Dan kan ons iets daaromtrent doen.”

Nog ʼn inwoner sę daar is twee rioolpype naby die ou tradisionele woonbuurt wat al sedert verlede jaar oorloop. Die kinders speel in die waterpoele en die bokke suip van die vuil water.

Die hoof van rioolwerke op Usakos, mnr. Titus Somaed, skryf dit toe aan mense wat goed in die rioolstelsel gooi wat nie daar hoort nie. Vreemde voorwerpe wat hulle gereeld in die rioolstelsel kry, is komberse, klere en plastiekbottels. Die voorwerpe gaan deur die pype tot in die rioolpomp waar dit ’n verstopping veroorsaak. Hy ontken dat die probleme met die rioolstelsel al van verlede jaar kom.

“Dit is nag hier,” sę me. Venter. “Die stadsraad is so besig met ander goed dat hulle nie by hul planne uitkom nie.”

“Hulle moet tog probeer verstaan, ons probeer ons bes,” sę mnr. Jantze. “Maar die mense kom net na ons kantore om ons uit te skel.”