VOOR die einde van die huidige dekade sal uraanproduksie moet verdubbel om in die behoeftes van ’n wagtende wêreld te voorsien. Daar moet voorberei word op die vraag van die bestaande kernkragsentrales en die wat oor die volgende vyftig jaar gaan bykom. Die voorspelling is vervat in die jaarverslag van Rössing aan sy aandeel houers.
Rössing gee toe dat die kernramp van Fukushima in Japan die uraanywerheid en regerings tot besinning geruk het. Bestaande veiligheidsmaatreëls word nagegaan en die lesse van Fukushima word geleer. Maar Fu kushima gaan nie ’n betekenisvolle uitwerking op die gebruik van kernkrag hê nie. Uraan gaan ’n belangrike komponent van die wêreld se kragopwekking bly.
Die verwagting is wel dat ’n stadiger pas in sekere lande met die omskakeling na kernkrag gaan intree. Veral in Japan kan ’n verlangsaming kom om groter veiligheid te waarborg in lande waar sterk seismiese werkinge voorkom. Duitsland het deur die jare heen twyfel gehad oor die raadsaamheid van kernkrag.

’n Nagtoneel op Rössing. Die personeelmag op die myn staan nou op 1 592 voltydse werkers. Die myn
het N$15, 5 miljoen aangewend vir die opleiding en ontwikkeling van mynwerkers.
In Duitsland kan die land se 17 kernkragaanlegte wel geledeidelik uitgeskakel word, maar dan sal dié land sterk op steenkool moet terugval vir kragopwekking. In lande van die Asiatiese blok en Noord-Amerika, ook sekere ander lande, sal kernkrag sy staanplek behou as ’n kragverskaffer aan die mensdom. Amerika en Oosterse lande hou rekening met die voordele van kernkrag sonder die vrystelling van skadelike gasse, asook die lae ongevallesyfer in die kernkragnywerheid die afgelope veertig jaar.
Teen 2030 behoort seshonderd kernreaktors teenoor die 441 van vandag in werking te wees. Binne die volgende paar jaar gaan verskeie nuwe uraanmyne kom. Namate met produksie begin word, kan markmededinging intree. Die swak Amerikaanse dollar het egter vir baie van die nuwelinge probleme op die gebied van mynwording geskep. Daarmee saam gaan die trae herstel van die internasionale gemeenskap van die ekonomiese resessietoestande van die afgelope jare.