MUN vry na Langer Heinrich-werkers

DIE proses van die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) om as die verteenwoordigende vakbond van werknemers by die Langer Heinrich-uraanmyn op te tree, het begin.

Die stap volg nadat die vakbond die myn verlede maand tydens ?n nuuskonferensie op Swakopmund van ongrondwetlike optrede beskuldig het.

Volgens mnr. Werner Duvenhage, besturende direkteur van die Langer Heinrichmyn, is ledegeld van werknemers wat aan die MUN behoort, reeds van hul Januariesalarisse afgetrek en het die mynmaatskappy reeds samesprekings met die vakbond geïnisieer om ?n finale ooreenkoms te bereik.

Duvenhage het gesê verskeie faktore het veroorsaak dat die proses vir so lang tydperk gesloer het. Dit sluit onder meer vorms in wat nie deur die MUN reg of volledig voltooi is nie.

Volgens die Namibiese nuusagentskap Nampa het 26 van die ongeveer 300 werknemers by die Langer Heinrichmyn vir die nuuskonferensie in Januarie opgedaag, waar op die werknemers se grondwetlike reg aangedring is om by die MUN aan te sluit.

Mnr. Kleopas Ngwena, die MUN se organiseerder in die Erongostreek, het aan Republikein beweer die rede vir die oponthoud deur Langer Heinrich om die vakbond te erken, is vanweë onwettige aktiwiteite wat op die myn plaasvind. Verder het hy aangevoer dat die vakbond al vir ?n geruime tyd sukkel om die werknemers te verteenwoordig en dat dit strydig met die Arbeidswet is om werknemers verteenwoordiging deur ?n vakbond te ontsê.

Kategorie: