
Mnr. Jonathan Leslie.
DIE geldgesprek oor Extract Resources se Husabmyn in die Namib het begin. Die Australiese mynmaatskappy soek lenings van sowat US$1,66 miljard in ’n proses wat ook die beleggerstandpunte in uraan sal toets ná die Fukushima-ramp in Japan.
Uit Perth word berig dat Extract in gesprek is met verskeie banke en finansieringsinstellinge om geld te bekom vir die Husab-myn waar die produksieteiken 15 miljoen ton erts per jaar is. Sou die onhtwikkeling deurgevoer kan word, gaan dit Husab een van die grootste uraanmyne ter wêreld maak.
Oor finansiering het Jonathan Leslie, Extract se hoof uitvoerende beampte, gesê die plan is om die geld in die vorm van lenings en aandelekapitaal te bekom.
Die beleggingsklimaat in uraan bly ongunstig ná Fukushijma. Die verwagting is dat die uraanprys vir langtermynkontrakte tussen US$60 en US$75 per pond gaan bly. Die uraanpryse vir verkope uit die hand lyk glad nie goed nie. ’n Heersende prys van US$52,75 per pond word aangehaal, maar vrese bestaan dat dit kan daal tot US$45,95 per pond. Dis veral in Duitsland en Japan waar die vraag na uraan ’n knou gekry het.
Volgens die gesaghebbende Resource Capital Research van Sydney kan die langtermynprys nog ontwikkeling van sekere uraanprojekte volhou, veral in Namibië.
Vanjaar in Februarie was aanduidinge dat Extract saam met die bestaande Rössing vir die ontwikkeling van Husab gaan instaan. Die jongste uitlatings deur Leslie dui daarop dat Extract terug is by die ontwikkeling van Husab op eie stoom. Die vertroue van Extract spruit uit aanduidinge van ’n leeftyd van langer as twintig jaar by Husab en ’n langtermynmark wat deur China, Japan en Suid- Korea geskep gaan word.
Volgens Leslie duur gesprekke ook voort met die staatsbeheerde Epangelo van Namibië.
Die potensiaal van die Husab-myn styg steeds. ’n Jongste skatting is dat die bron oor 280 miljoen ton uraan beskik. Dit is 37 persent meer as vorige skattings. Die optimisme word toegeskryf aan die uraangraad in die erts wat hoër is as wat aanvanklik gemeen is.