
Mnr. Ehrnst Katjiku (regs) saam met mnr. Alain L'Hour tydens die aankondiging van mnr. L'Hour se aanstelling as Areva se nuwe besturende direkteur in Namibië.
DIT is die plig van inwoners van die Erongo-streek om die regte raamwerk te skep waarbinne nuwe toetreders tot nywerhede soos die myne in die Namib kan opereer, sê die streekraadslid vir die Daures-kiesafdeling, mnr. Ehrnst Katjiku. Daar moet verder en vinniger saamgewerk word om die regte praktyke vir ontwikkeling te skep.
Mnr. Katjiku het as genooide spreker opgetree tydens die aankondiging deur die myngroep Areva met sy Trekkopje-projek dat mnr. Alain L’Hour as nuwe besturende direkteur in Namibië aangestel is. Volgens hom het Areva hom reeds tot sodanige samewerking in die streek verbind.
Mnr. Katjiku het samewerking tussen die private en openbare sektore, skenkers- en gasheerlande bepleit om ontwikkeling te bespoedig met die regte optrede . Dan sal in die voordele gedeel kan word wat ’n streek kan bied. Dit sal tot voordeel van die betrokke maatskappye en die landsregering wees, maar sal ook die groei verseker wat die mense van die streek toekom.
Hy het die bevordering van mnr. L’Hour verwelkom omdat die streek se mense hom reeds ken. Daarom vra hy die mense van die Daures-kiesafdeling om die eer wat hom toekom teenoor hom te betoon.
Hy het verteenwoordigers van Frankryk, die basisland van Areva, op die plegtigheid verwelkom. Dit dui op ondersteunng van Namibië in die land se pogings om sy regte staanplek onder lande van die wêreld in te neem. Dit is die lande wat integrasie van belange op streek- en internasionale vlakke voorstaan. Dit is ook verteenwoordigend van die nuwe markekonomie van ’n moderne wêreld.
Aan die myne moet ’n omgewing gebied word waar hulle vir hul ondernemingsgees beloon kan word. Volgens die raadslid geld dit veral in ’n wêreld waar die neerslae ontdek en ontwikkel is waar dit op die grond en net onder die grond aangetref was.