12.12.2011 Chinese bied miljarde aan vir Husab-uraan
URAANHONGER China kan met ’n verpligte aanbod van US$2,2 miljard of ongeveer N$17,8 miljard vir Extract Resources die alleenbeheer oor Namibië se reusagtige Husab-uraanprojek kry.
Hierdie aanbieding vir die wêreld se vierde grootste uraanvonds was teen die naweek internasionale nuus in groot finansiële publikasies soos Bloomberg en die Wall Street Journal.
Eers het die China Guangdong Kernkragmaatskappy (CGNPC) en die China Afrika Ontwikkelingsfonds (CAD) deur Taurus ’n aanbod van sowat US$990 miljoen (nagenoeg N$8 miljard) of £2,43 per aandeel vir Kalahari Minerals gemaak, wat 42,74% van die aandele in Extract hou.
Dit was die sneller vir die Australiese beleggingswaghond om ’n oorname-aanbod vir Extract vas te stel teen ’n prys van A$8,65 per aandeel.
Die Namibiese regering se staatsmaatskappy Epangelo, met ’n teoretiese alleenreg op strategiese minerale soos uraan, sal waarskynlik ’n persentasie aandele in Husab deur die Chinese kopers van Kalahari en nou miskien die hele Extract inpalm.
Vrydag het Extract die aanbiedinge vir Kalahari en sy eie aandele bevestig. Onafhanklike direkteure, is benadruk, sal die aanbiedinge versigtig hersien en nie ophou om met verskeie ander beleggers te onderhandel wat intens in Namibië se uraanrykdom belangstel nie. “Alle alternatiewe” sal volgens Extract ondersoek word voor ’n aanbeveling aan sy aandeelhouers.
Die Kalahari-aanbod hang onder meer van aanvaarding af dat Taurus meer as 50% van die stemreg in die onderneming kry, dat die Namibiese regering nie eksplorasie- en mynlisensies onttrek of negatief wysig nie en dat die Namibiese Mededingendheidskommissie (NaCC) die transaksie goedkeur.
Onderhandelinge oor die finansiering van ontwikkelingskuld sal volgens Extract nie weens die aanbiedinge tot stilstand ruk nie. Planne vir onder meer die aanlê van krag en water na die myn vorder volgens die maatskappy goed.
Ontleders reken die kanse is skraal dat Rio Tinto, eienaar van buurmyn Rössing en ’n aandeelhouer in beide Kalahari en Extract, ’n alternatiewe oorname-aanbod sal maak.
Hulle kan volgens die Financial Post dalk liewer kies om hul aandele in Extract te behou en ’n ooreenkoms aangaan om Husab te ontwikkel en te bestuur.
Rio Tinto en Extract gesels al geruime tyd oor moontlike samewerking en selfs die samesnoering van Rössing en Husab.
|