2.09.2010 Uraanmyn se planne met baie mense
GEEN bestuurstelsel kan die verwagte instroming van mense na die Erongo-streek stuit nie. Die werkloosheidvlak is hoog in Namibië. Gevolglik gaan mense na die Namib kom uit ’n blote aanvaarding dat werkverskaffing deur mynwording geskep gaan word. Die gevolgtrekking word in ’n studiestuk van Aurecon bereik wat namens Rössing ’n opdrag uitvoer oor wat die maatskaplike gevolge van ’n groter myn gaan wees.
Van die gevolge van ’n instroming kan meer krotbewoners in agterplase en informele behuising met die gevolglike gesondheids- en maatskaplike probleme wees. Aurecon stel nogtans sekere maatreëls voor waarmee die genoemde probleme hanteer kan word. Dit behels hoofsaaklik ondersteuning wat aan maatskaplike dienste verskaf kan word.
Voorbeelde is mense wat tot private eiendomsbesit aangemoedig kan word. Die dorpsraad van Arandis kan ondersteun word om gesondheidsdienste op die dorp te verbeter. Maatskaplike en gesondheidsorgprogramme kan ingestel word. Dit moet gerig wees op die bekamping van siektes en probleme soos alkoholisme en geweld teen vroue en kinders.
Volgens Aerecon moet die myn in sy toekomsbeplanning rekening hou met sy maatskaplike verpligtinge. Die verhouding waarteen vir opleidingsgeriewe soos skole ondersteun word, kan stelselmatig verhoog word om genoeg geriewe te skep. Dit behoort ’n gesamentlike maatskaplike poging deur myne van die omgewing te wees.
Daar word ook toegegee dat die bestaande skole van Swakopmund en Walvisbaai nie voorsiening kan maak vir die behoeftes van ’n vergrote arbeidsmag by Rössing nie. Op die gebied van padveiligheid gaan groter risiko’s intree as gevolg van meer mense wat op die paaie gaan beweeg. Dit word in ’n afsonderlike studieveld oor verkeer aangespreek, maar is nie van groot betekenis nie.
Dit kan met ’n regte bestuurstelsel hanteer word. Op die gebied van huisvesting kan tydelike huurgeriewe geskep word. Verblyfgeriewe kan in Swakopmund se informele ontwikkelingsgebied geskep word en mobiele wooneenhede kan oorweeg word.
Werkers moet in staat wees om hul gesinne saam met hulle te bring en om gevolglike huweliksverval teen te werk. Volgens die studiestuk hoef gemeenskapsprosesse nie veel aangetas te word as die regte maatreëls getref word nie.
Die bestaande gemeenskapsprosesse kan ook gehandhaaf word deur konstruksiekampe ’n aansienlike afstand van Arandis op te rig. Die konstruksiekampe moet dan weer behoorlik bestuur word om ’n veilige en gesonde omgewing te skep.
|