4.03.2010 Uitbarsting oor Mondesa se munisipale kompleks
TWEE munisipale komplekse, ’n oue en ’n nuwe, was in die visier toe die eerste kartetse in Swakopmund se munisipale verkiesingsveldtog gebars het.
Die kornette in die aanvalsmag was die United Democratic Front se twee stadsraadslede en die teiken die Swapomeerderheid in die raad. Die Swapo-stoomroller is uiteindelik in die raad gebruik om die opposisie plat te druk.
Die strydperk was die munisipale raadsaal se maandvergadering. Die lont is deur die UDF se vuurvrou, raadslid Sofia Motinga, aangesteek. Die strydvraag was die vervreemding of verkoop van die bestaande munisipale kompleks in die woonbuurt Mondesa.
Me. Motinga moes twee keer tot orde geroep word terwyl sy in ’n voorbereide toespraak deur haar partygenoot, mnr. Elifas //Khoaseb, ondersteun is.
In ’n stadium het mnr. Paul Rooi (Swapo), onderburgemeester en ondervoorsitter van die raad, ook vergeefse pogings aangewend om haar soos die burgemeester en voorsitter van die raad, me. Germina Shitaleni, stil te kry. Rooi en Shitaleni is albei Swapo-raadslede.
Dit was die eerste uitbarsting in jare in ’n raadsaal wat normaalweg deur ’n sedigheid gekenmerk word waarop monnikke trots sou wees. Die petalje het voor die volste raadsaal in maande afgespeel met die publiek wat die sitplekke vir belangstellendes volgepak het.
Die vonk in die vat was ’n aanbeveling deur die bestuurskomitee dat ’n geslote veiling vir die ou munisipale kompleks in Mondesa gehou moet word wanneer personeel na die nuwe stadhuis van meer as N$60 miljoen gaan verskuif wat nou aan die buitewyke van die dorp langs die Hentiesbaaipad gebou word.
Die voorgestelde insetprys vir die munisipale kompleks in Mondesa op deel E van Erf 632 is N$2,8 miljoen. Die geslote veiling en die insetprys was die eerste punt op die agenda. Dit het me. Motinga met ’n voorbereide toespraak op die been gebring.
Sy het gesê die bietjie demokrasie wat in Namibië oorgebly het, gun haar die reg om te verskil of saam te stem. Daarom verwerp die twee UDF-raadslede die verkoop van die munisipale kompleks in Mondesa.
“Inkommers op hierdie dorp ken nie die geskiedenis van die munisipale kompleks in Mondesa nie. Daarom gee hulle nie om oor hoe so ’n besluit die mense van die buurt se gevoelens raak nie. Die transaksie sal geld vir die munisipaliteit inbring, maar dit gaan inwoners van dienste ontneem op die plekke waar hulle bly.
“Die munisipale kompleks het historiese en sentimentele waarde vir die mense wat in die buurt bly, maar daarvoor is nie eens plek op die munisipaliteit se webwerf of die onlangse DVD nie. Twee derdes van Swakopmund se mense bly in Mondesa of die omliggende townships. Hul menslikheid is in die gedrang en baie is kwalik geletterd of ongeletterd. Dit maak hulle kwesbaar vir besluite soos dié. Hulle word blootgestel aan vooroordele met moderne ontwikkeling wat nooit tot daar gaan kom nie.”
Toe me. Motinga oor die rykes van die seefrontgebiede met hul uitgebreide parke begin praat het, het me. Shitaleni haar twee keer aangespreek om by die punt op die sakelys te hou.
Me. Motinga het volgehou sy hou haar by die punt. Mnr. Rooi het tussenbeide getree en gesê dit handel nie meer oor die verkoop van die munisipale kompleks in Mondesa nie. Daarop het die raad reeds besluit. Dit gaan nou oor die prys daarvan.
Me. Motinga het gesê toe die oorspronklike besluit geneem was, was sy daarteen. Dit verleen aan haar die reg om weer daaroor te praat. Sy het gesê al die duur en mooi goed word aan die dorpsgebied gegun met die goedkoop goed wat vir Mondesa bedoel word.
Mondesa is die plek waar MIV/vigs op sy ergste is, dis ’n plek met ’n hoë werkloosheidsyfer, ’n jeug sonder voorregte, bejaardes en weeskinders. Nou gaan noodsaaklike dienste nie eens meer gelewer word waar hulle bly nie. Afstande hou ’n geweldige geldelike implikasie vir die mense van Mondesa in.
As hulle nie bereid is om die lang afstande dorp toe te stap nie, moet hulle vir alles N$14 vir ’n taxi vir heen en terug betaal. Sy het ook gevra dat die mense van Mondesa geraadpleeg moet word voordat met die verkoopproses voortgegaan word. Die Swapo-meerderheid het van die aanbeveling ’n besluit gemaak met net die UDF-lede wat dit teengestaan het.
|