3.03.2010 Swemmers by kus kry Olimpiese bad
‘n NUWE swembad volgens Olimpiese vereistes vir Swakopmund het ‘n wedloop teen tyd geword. ‘n Ooreenkoms is Vrydagmiddag met die munisipaliteit oor die swembad onderteken en die ontwikkelaar, mnr. Quinton Liebenberg van die Lighthouse-groep, het reeds per vliegtuig na Windhoek gereis om die bouproses aan die gang te kry.
Die swembad vorm deel van ‘n ooreenkoms wat ná baie maande tussen die munisipaliteit en mnr. Liebenberg onderteken is ná ministeriële goedkeuring daarvoor, gepaard met die verwerping van inwonersbesware. Twee stukke grond en byna N$20 miljoen is betrokke by die ooreenkoms en die gevolge daarvan. Mnr. Liebenberg het voor sy vertrek aan Republikein gesê ‘n swembad volgens Olimpiese vereistes sal by Swakopmund se sentrale sportkompleks in die woonbuurt Vineta gebou word. Hy skat die oprigtingskoste van die bad van 25 meter op sowat N$8 miljoen.
Die grond vir die swembad is vir N$544 731,13 aan die Lighthouse-groep verkoop. Die perseel van die bestaande munisipale swembad is vir N$10 439 033 aan die Lighthouse-groep verkoop. Die binnensmuurse swembad verkeer in ‘n stadium van verval met die stadsraad wat Donderdagaand op die sluiting daarvan besluit het. Die publiek sal dertig dae kennis gegee word van die finale sluiting van die munisipale swembad, maar dit sal beslis nie later as 30 Junie wees nie.
Van die Lighthouse-groep word verwag om die nuwe swembadkompleks vroeg in 2011 gereed te hê. Die Lighthouse-perseel word in die transaksie verkoop met die Liebenberg-groep wat volgens die ooreenkoms weeldewooneenhede, kommersiële eenhede, kleinhandelplekke en restaurante daar gaan bou.
Van die Lighthouse-groep word verwag om die bestaande strandgeriewe teen hul eie koste te behou en te bestuur. Dit behels ook die opgradering van die bestaande speelterrein van die kleinspan. ‘n Swempoel vir die jong klomp sal deel van die opgradering vorm.
|