
Mnr. Eckhard Demasius
’n RAMP- of noodplan vir Swakopmund het ’n prioriteit geword. Tonne chemikalieë beweeg per spoor deur die dorp en groot busse karwei daagliks duisende werkers op smal teerpaaie na die uraanmyne in die Namib. Dit kan ’n tydbom wees. Is Swakopmund gereed vir ’n noodtoestand wat kan ontstaan?
Die kwelvraag het op Swakopmund gedien toe die stadsraad ’n raadplegende vergadering met sakelui en verteenwoordigers van die stadsraad en munisipaliteit onder aanvoering van die burgemeester, me. Germina Shitaleni, gehou het.
Die byeenkoms het ’n wye veld gedek van ’n voetganger- en fietsrybaan langs die kus tussen Swakopmund en Walvisbaai, verby ’n gebrek aan urineerplekke ná ure langs die sentrale strandgebied tot by ernstige kommer oor behuising en die beskikbaarheid van water op die kitsgroeiende vakansieoord.
Die laaste woord is ook nog nie gespreek oor die swembadkrisis in die Molegebied nie. Die vergadering het ’n proses van vyf vrae deur die publiek en meer antwoorde deur me. Shitaleni en haar amptenare gevolg. Algemene kommer onder lede van die publiek was dat Swakopmund besig is om uit sy skoene te groei.
Die noodplan het ter sprake gekom toe ’n man in die openbare galery kommer uitgespreek het of Swakopmund vir ’n noodsituasie gerat is. Hy was op ’n vergadering op die myndorp Arandis as ’n verspreidingspunt vir die myne.
Daar het hy gehoor hoeveel chemikalieë tussen Walvisbaai en Arandis vervoer word. Dit is ontsettend. Is Swakopmund toegerus vir ’n situasie wat kan ontstaan wanneer ’n probleem met dié spoorvrag deur die dorp ontstaan?
Die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit, mnr. Eckard Demasius, het gesê so ’n noodplan word reeds op verskeie vlakke bespreek. Melding is ook van goeie samewerking met die uraanmyne in die verband gemaak.
Sy kommer is nie net oor die chemikalieë nie. Wat gaan gebeur, sou twee van die mynbusse in ’n botsing betrokke wees? Die busse vervoer tot vyftig werkers per bus, dus honderd lewens wat met so ’n ongeluk in die spel kan wees.
Oor klagtes oor die prys van vullisverwydering het mnr. Demasius gesê Swakopmund se tariewe is baie billik teenoor plekke soos Walvisbaai en Windhoek. Steeds op die gebied van die ontluikende uraanbedryf het mnr. Demasius gesê in gesprekke oor behuising is goeie samewerking deur die mynmanne gegee.
’n Aanduiding is dat sowat tweeduisend huise op Swakopmund vir die mynwerkers gebou moet word. Swakopmund het reeds die weg van blokontwikkeling deur ontwikkelaars gevolg om die stormloop die hoof te bied. Om ’n dorpsuitbreiding te ontwikkel, verg tot twee jaar voordat die eerste troffel in die grond gedruk kan word.
Verkeerbeheer, veral voetgangerbeheer, het ook deurgeloop. ’n Bewering was dat feitlik die ganse verkeersmag saamgetrek word waar snelstrikke geplaas word. Op straat beweeg voetgangers soos hulle wil en die situasie vererger by die dag.
Oor die stryd om beheer van die Swakopmundse lughawe het mnr. Demasius gesê in die media is verkeerdelik beweer dat die munisipaliteit ’n hofsaak verloor het om die huidige konsessiehouer daar weg te kry.
Al wat in die hof gebeur het, was die uitspraak dat die aansoek van die Swakopmundse munisipaliteit nie “dringend” was nie. Nou word gewag om te hoor wanneer dit op die driemaande-termyn van hofsittings gaan verskyn.
Mnr. Demasius het nie gesê watter media so verkeerd berig het nie. Oor die lughawe het hy gesê met nywerheidsontwikkeling word in die rigting van en om die lughawe beweeg. ’n Situasie moet vermy word soos wat by die lughawe Eros in Windhoek ontstaan het. Daar is huise om die lughawe gebou.
Op die gebied van verkeer gaan ’n nuwe deurpad vanaf die nuwe parkeerterrein by die tennisbane, agter die museum verby tot in Kochstraat geskep word. Dit sal ’n eenrigtingstraat weg van die sentrale sakegebied wees en as ontsnaproete uit die sakedeel dien. Oor waterverskaffing het hy gesê waarskuwings word nie gerig oor moontlike onderbrekings in toevoer nie.
Sodanige waarskuwings laat mense in baddens en houers opgaar. Vir druk in die krane sal nog ’n reservoir op hoë grond noord van die woonbuurt Tamariskia gebou word. Me. Shitaleni het gesê die stadsraad sal met die swemgebroedere skakel oor die sluiting van die munisipale swembad by die Lighthousekompleks.
Volgens ’n stadsraadsbesluit sal kennis van dertig dae gegee word oor wanneer die swembad gaan sluit. Later op die vergadering het mnr. Demasius gesê die deur is steeds oop sover dit die swembad betref. Hy glo ’n oplossing kan bereik word in raadpleging tussen die stadsraad en die swemmersgemeenskap.
Oor vullisverwydering het hy gesê inwoners moet hulle voorberei op twee vullishouers by hul huise – een vir herwinbare materiaal en die ander vir materiaal wat nie herwin kan word nie.