17.5.2012
 Argiewe:

Erongo


Tuisblad-argief

15.05.12

Tuisblad van 15 Apr '12

14.05.12

Tuisblad van 14 Apr '12

11.05.12

Tuisblad van 11 Apr '12

10.05.12

Tuisblad van 10 Apr '12

09.05.12

Tuisblad van 09 Apr '12

3.03.2010

Swakopmund se stadsraad vel vonnis

• Swembad se dae getel

© Republikein
Die oorloopraamwerk van die swembad waardeur die seuntjie van agt jaar geval het.
DERTIEN steke in ‘n gapende wond aan die been van ‘n agtjarige seuntjie was op Swakopmund die voorspel tot transaksies van miljoene dollar wat die doodsklok vir die eens beroemde munisipale swembad van die vakansieoord laat lui het.

Die finale besluit wat Swakopmund se swemmers tydelik badloos gaan laat, is deur die burgemeester van die dorp, me. Germina Shitaleni, aangekondig.

In haar maandelikse mededelinge aan die stadsraad het me. Shitaleni koste van meer as ‘n miljoen dollar as rede vir die sluiting van die nou gevaarlike en vervalgeteisterde swembad aangevoer. Ministeriële goedkeuring is ook nou verleen vir die verkoop van die swembadperseel aan die Lighthouse-groep, die houers van die res van die kompleks waarbinne die swembad geleë is.

Die wond in die seun se been wat met 13 steke geheg moes word.
Die transaksie behels ‘n onderneming deur die koper dat ‘n swembad by die Vineta-sportterrein gebou gaan word. (Berig langsaan).

Die transaksie met die Lighthouse- groep is op die stadsraadsvergadering goedgekeur en die ondertekening van die dokumente is Vrydagmiddag in die stadhuis afgehandel. Die eerste miljoen dollar vir die behoud van die bestaande munisipale swembad sal volgens me. Shitaleni vir die herstel van die verhittingstelsel nodig wees.

Die kapasiteit van die bestaande stelsel is as gevolg van ‘n omleidingsprobleem tot net sowat die helfte beperk van wat dit moet wees. Vir die algemene opknapping van die verwaarloosde swembad sal nog N$140 000 aangewend moet word.

Volgens me. Shitaleni behoort die nuwe swembad by die Vinetasportkompleks vroeg aanstaande jaar vir die publiek beskikbaar te wees. Sou die omvangryke herstelwerk aan die bestaande swembad gedoen word, sou die gerief in elk geval vir maande vir die publiek gesluit moes word. Dan sou die groot bedrae aan ‘n swembad bestee moes word wat in elk geval binne ‘n afsienbare tydperk vervang sou wees.

‘n Aanbeveling deur die bestuurskomitee is aanvaar dat dertig dae kennis van die sluiting van die ou swembad om gesondheids- en veiligheidsredes gegee sal word. Die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit sal aangesê word om die sluiting van die bad met belangegroepe te bespreek.

Die finale sluiting sal egter nie later as 30 Junie vanjaar wees nie. Met die verdaging van die vergadering was daar onmiddellike openbare reaksie deur lede van die swemmersgemeenskap wat die vergadering bygewoon het.

Hulle bevraagteken die N$1 miljoen vir die verhittingstelsel wat deur me. Shitaleni as ‘n beweegrede aangevoer is. Net N$70 000 was een van die bedrae wat deur die swemmers vir die herstel van die verhittingstelsel genoem is.

‘n Voorval wat as voorspel tot die gevaarlike toestande by die swembad gedien het, was ‘n agtjarige seuntjie wat deur traliewerk by die bad se oorloop geval het toe hy met voorbereiding vir ’n swembyeenkoms op 11 Februarie gehelp het. Die struktuur het net onder hom meegegee. Dit het die gat in sy been veroorsaak en hy sal vir weke nie aan sport mag deelneem nie, volgens ‘n rondskrywe aan Swakopmunders deur sy versorgers.

Die ongeluk waarin sy wond met dertien steke geheg moes word, word regstreeks gekoppel aan die gevaarlike toestande by die bad.

In die skrywe word beswaar gemaak teen koue stortbaddens die afgelope drie maande, koue swembadwater, verwaarloosde oorloopgleuwe, gebreekte teëls met skerp wande en baie snyplekke aan swemmers se voete. Koue swembadwater is glo al ‘n jarelange verskynsel. Reaksie deur die munisipaliteit op klagtes oor die toestand van die bad was dat herstelwerk nie nou ‘n prioriteit is nie.