2.09.2010 Swakop-lughawe bly ’n tydbom
KWADE bloed kook op die Swakopmundse lughawe tussen die omstrede huurder, Swakopmund Airfield CC , en vlieëniers in die aanloop tot ’n hofgeding teen die einde van September in Windhoek. Saterdag het nog ’n voorval op die lughawe afgespeel toe ’n private vlieënier van Swakopmund.
Pierre Gouws, verhoed is om met sy vliegtuig op die stygbaan te kom. Dit was die soveelste meningsverskil die afgelope weke op die lughawe. Saterdag het dit gelei tot hewige argumente tussen mnr. Gouws en verteenwoordigers van ’n sekuriteitsmaatskappy in opdrag van die lisensiehouer, mnr. Brian Roos van Windhoek.
In ’n stadium was die polisie ook by en is gedreig om mnr. Gouws se vliegtuig te laat wegsleep waar dit voor ’n hek met ’n slot gestaan het. By die eindpunt is ’n kennisgewing deur die munisipaliteit aangebring dat die huurooreenkoms tussen die munisipaliteit en Swakopmund Airfield op 31 Oktober 2009 verstryk het.
Daarvolgens moes die lughawe op 1 November aan die munisipaliteit oorgemaak word. Hierop was Swakopmund Airfield se reaksie dat die lughawe nie ontruim sal word nie en en dat die huurooreenkoms tot 31 Augustus 2015 geldig is.
Dit is waaroor die hof nou uitsluitsel moet gee. Sedertdien is die lisensie van Swakopmund Airfield onttrek. In ’n daaglikse kennisgewing deur die Ministerie van Werke en Vervoer aan vlieëniers, in die omgang bekend as ’n Notam, word op 9 Junie vanjaar verklaar: “Swakopmund Aerodrome will be operating as an unlicenced aerodrome”.
Op 24 Junie is ’n rondskrywe ook deur ’n vlieënier aan gebruikers van die lughawe gestuur waarin prontuit verklaar word dat absolute sekerheid verkry is dat die direktoraat Burgerlugvaart die Swakopmundse lughawe ongelisensieer verklaar het. Die kansellasie het glo op 30 April vanjaar in werking getree.
Daarvolgens behoort sodanige houer van ’n gekanselleerde lisensie dit binne dertig dae aan die direkteur van Burgerlugvaart terug te gee. Sonder ’n lisensie mag ’n lughawe kragtens wet nie bedryf word nie. Huurvliegtuie mag dan ook nie van sodanige lughawe gebruik maak nie. Selfs versekeraars het ’n klousule oor die gebruik van ongelisensieerde lughawes.
Volgens die skrywe kan dit die munisipaliteit van Swakopmund as die wettige eienaar van die lughawe in ’n baie moeilike situasie plaas. Die brief brei uit dat ervare vlieëniers bekommerd is oor die moontlikheid van ongelukke op die betrokke lughawe. Daar word beweer die beheer toring het gesluit en die lugverkeersleiers het vertrek.
“Vlieëniers moet nou op kommunikasie tussen vliegtuie en hul eie sig reken om afstande tussen mekaar te handhaaf en om botsings in die lug en op die grond te voorkom. En dit gebeur op die tweede besigste lughawe in Namibië.”
’n Gevaarlikse situasie word ook geskets wanneer vlieëniers op ’n oosweerdag op die enigste landingstrook moet neerstryk. Daar word ook beweer dat dit ongelooflik is dat een man met sy “bende sekuriteitsmanne” die ganse lugvaartbedryf as gyselaar kan hou.
Ander dokumente in besit van Republikein is ook ’n aankondiging deur Swakopmund Airfield op 7 Julie vanjaar dat staanplekgelde vanaf 1 Julie vanjaar met 10 persent styg.
Dit is vooruitbetaalbaar. Operateurs en eienaars van vliegtuigskure met uitstaande gelde aan Swakopmund Airfield word ook gewaarsku dat hulle verhoed gaan word om die lughawegeriewe te gebruik en nie toegang tot die lughawe gaan kry nie.
Vanjaar in Augustus is lughawegeriewe aan ’n vlieënier verbied wat nie die register vir landings en opstygings ingevul het en nie landingsgelde betaal het nie. As die vlieënier weer van die geriewe gebruik wil maak, moet hy sy rekening met N$350 bybring en ook ’n deposito van N$500 betaal.
Oor Saterdag se voorval op die lughawe beweer mnr. Gouws dat hy en ander vlieëniers deur mnr. Roos en sy regspan geboelie word. Hy beweer hy is verhoed om op te styg tot tyd en wyl hy beweerde agterstallige landingsgelde betaal het.
“Aan wie moes ek betaal? Ek weier nie, maar wie is die regmatige eienaar van die lughawe? Ek het nog nooit ’n aanmaning of brief oor agterstallige landingsgelde van enigiemand ontvang nie.”
Mnr. Gouws beweer die hek is voor hom toegestoot en ’n ketting met ’n slot is aangebring.
“Ek het met ’n sekere hoofinspekteur van die polisie geskakel en die reaksie daarop was dat die voorval kinderagtig is.”
’n Polisieman het wel later opgedaag, maar dit het niks aan die situasie verander nie. Mnr. Gouws het dit oorweeg om sy vliegtuig voor die hek te laat. Die lughawebestuurder het toe blykbaar ’n opdrag aan ’n onderneming gegee wat herstelwerk aan vliegtuie doen. Die instansie moes glo die vliegtuig verwyder.
Dit is geweier, omdat verlof van die vliegtuigeienaar daarvoor nodig was. Om dieselfde rede kon die sekuriteitsmaatskappy ook nie die opdrag uitvoer nie. Hy sê ook hy het ’n brief aan die munisipaliteit gerig waarin verklaar is dat die lughawe sonder ’n geskiktheidsertifikaat bedryf word.
“Die plaaslike owerheid weier om sy pligte uit te voer.”
Sy aanbeveling is dat die munisipaliteit weer volle beheer oor die lughawe moet neem.
|