
Taryn Leyland van Swakopmund by vanjaar se Mej. Namibië, Marelize Robberts. Volgens Taryn was die besoek vir haar ‘n groot verrassing en dien dit vir haar as inspirasie vir wat op haar wag.
‘n ONBEKENDE skenker het hoop by Taryn Leyland laat opvlam dat sy naby die einde van haar weg van pyn is. Die Swakopmundse nooi moet dringend ‘n delikate heupoperasie ondergaan met welmenendes van die vakansieoord wat geld vir haar behandeling insamel.
‘n Anonieme skenker het nou op die voorgrond getree met ‘n skenking van N$70 000. Taryn het op krukke en in pyn van die hoop op uitkoms vertel toe Mej. Namibië, Marelize Robberts, op Swakopmund ‘n welwillendsheidsbesoek aan haar gebring het. Die besoek deur Marelize het vir haar baie beteken en was ‘n groot verrassing. Sy het dit vergelyk met ‘n ontmoeting lank gelede met Michelle Mclean, die bekende skoonheid wat as Mej. Namibië op internasionale vlak as Mej. Heelal aangewys was.
Met die bydrae deur die onbekende skenker koers die Taryn Leyland-fonds nou in die omgewing van N$100 000. Dit is naastenby ‘n skatting van wat die regstelling van haar krankement gaan kos. Swakopmunders het met ‘n loting, ‘n kraampie op ‘n vlooimark en ‘n pretloop deur Swakop Striders onder meer met die insameling van die res van die bedrag gehelp. Sy koester nou die hoop dat die groot operasie reeds in September gedoen gaan word. ‘n Besoekende spesialis sal teen die einde van Augustus ‘n verkennende ondersoek op Swakopmund uitvoer.