
Riana Guriras in die kraampie met die edelstene. Sy tree reeds as instrukteur op waar waarde tot die produkte van kleinmyners gevoeg word.
‘n OPKOMENDE geslag uit die geledere van Namibië se kleinmyners het vir nog ‘n deurbraak gesorg met ‘n kraampie op ‘n groot ry- en springtoernooi vir perderuiters op Omaruru. Edelstene het van versamelaarstukke in ru-vorm tot geslypte stene en allerlei juweliersware gewissel.
Die jong ondernemers het onder die vaandel van die Omaruru Gemstones Processing deelgeneem. Een van die instrukteurs van OGP, me. Riana Guriras, het nie net as verkoopdame opgetree nie, maar ook besoekers oor die verskillende stene, hul herkoms en hul waarde ingelig.

Twee jong belangstellendes in die kraampie met edelstene in ru- en geslypte vorm. Links staan Sonja Alberts en by haar Odette Schauw. Die man wat die sake doen, is German Musambani.
Volgens haar is hoofsaaklik kleinmyners van Omaruru in die aanbod verteenwoordig. Riana is ‘n instrukteur by dr. Heinz Erich Malzahn se aanleg op Omaruru. Aanvanklik het sy met tuisstudie kennis van edelstene opgedoen, maar toe het sy gevorder tot waar sy nou ‘n kursusleier by dr. Malzahn is.
Onder die vertoonstukke was daar kristalle van kleinmyners op die Gobobosvlakte wes van Uis. Van die duurste edelstene in die aanbod was ‘n hangertjie van akwamaryn op silwer teen N$1 000.
Vir ‘n toermalyn in ‘n ketting met waatlemoenkleur sou ‘n koper N$1 200 moes opdok. Van die edelstene in die ketting kom van kleinmyners in die omgewing van Wilhelmstal.