
Hentiesbaai se miniatuurhings, Shrek, het ’n unieke operasie ondergaan.
HENTIESBAAI se miniatuurhings is weer pure perd ná ’n unieke operasie van vier uur waar ses veeartse bygestaan het om twee van sy ongewenste tande te verwyder. Die sewejarige Shrek, een van drie miniatuurponies van die Groblers van Hentiesbaai, het op Otjiwarongo ’n operasie ondergaan wat ’n eerste was vir Namibië.
Tydens dié operasie is twee van sy tande verwyder wat dit ’n unieke operasie vir Namibië maak omdat net een tand gewoonlik op ’n slag verwyder word. Die operasie het ’n totale persoonlikheidsverandering by hom meegebring. Shrek het vandat hy twee jaar gelede op die dorp aangekom het, gesukkel met ’n ontsteking op sy neus.
Terwyl die merrie, Feona, die vriendelikheid en vredeliewendheid self is, was Shrek nie ’n ponie om sonder handskoene aan te pak nie. Met ’n halter aan was hy hanteerbaar, maar daarsonder was hy maar moeilik. Zelda Grobler vertel die ontsteking op sy neus het aan die begin van vanjaar al hoe erger begin raak.

Op die foto bo is Shrek pas nadat hy bygekom het na sy operasie waar ses veeartse bygestaan het. Almal het hom so gemaklik moontlik probeer maak en daar is selfs gesorg vir ondervloerse verhitting. Sy maanhare is nie vir die operasie afgeskeer nie, maar in ’n netjiese poniestert gebind.
Hy het toe ’n week op Swakopmund gebly waar die veearts twee gaatjies op die brug van sy neus oopgeboor en behandel het. Maar steeds wou die plekke nie gesond word nie. Toetse en X-straalplate is toe gestuur aan Onderstepoort, die Instituut vir Veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria, wat bevind het Shrek het twee ongewenste tande wat verwyder sal moet word.
Omdat dit baie duur sou wees om vir Shrek Suid-Afrika toe te stuur, het ’n plaaslike veearts gereël dat ’n veearts daarvandaan na Namibië kom om na ’n paar diere te kyk. Shrek is toe Otjiwarongo toe gebring waar die operasie uitgevoer is.
’n Span van ses veeartse, een elk van Suid-Afrika, Spanje, Otjiwarongo en Windhoek en twee van Swakopmund, was by die operasie betrokke.

Die twee tande wat vir Shrek soveel moeilikheid veroorsaak het. Altwee is in ’n operasie verwyder.
Die operasie het ’n volle vier uur geduur. Die operasie is die Vrydag gedoen en die Saterdag kon hy weer teruggaan Hentiesbaai toe. Daar is hy ’n week lank in afsondering gehou en is nou weer perdfris. Hy is sedert die operasie baie rustiger, skuur teen almal en laat toe dat hy gevryf word.
Intussen is Shrek se merrie, Feona, hoog dragtig en word hul tweede vulletjie enige dag verwag. Of die kleintjie met die Visfees al daar gaan wees, maak nie saak nie, die hele familie gaan daar wees en Shrek sal gery kan word terwyl Nikita, die oudste vulletjie, vir die bederf daar is. Sy is veral versot op pannekoek.