15.03.2010 Seedrama eis byna vier lewens
 Omstanders help om die Arno na hoër grond te sleep. Die bootjie het gisteroggend met vier kabeljouhengelaars teenoor Swakopmund se ou ysterkaai omgeslaan.
VIER Walvisbaaiers het gisteroggend naby die Swakopmundse Mole in’n stormsee met ysige water aan die dood ontkom toe hul ooprompbootjie Arno (registrasiemerk WB 185) omgeslaan het.
Die seedrama het binne ’n uur teenoor die restaurant The Tug naby die ou ysterkaai afgespeel. Die vier mans, Freddie Lourens, Alf Andreas, Johan Sales en Wiele Jordaan, het hul lewens aan reddingstuig te danke. Van die toerusting was op die Arno en omstanders het beweer ’n duiker het van die tuig van die ou kaai na die drenkelinge uitgeswem. Twee van die helde in die drama was ’n ma en haar dogter van Rustenburg in Suid-Afrika. Hulle is Elsabé en Alecia Heymans.
Die verhaal van die Arno is deur bibberende seemanne op ’n grasperk naby die ou kaai aan Republikein vertel. In daardie stadium was hulle toegewoel in ’n kombers, groot strandhanddoeke en enige warm goed waarmee strandgangers hulle gehelp het.
Die Arno self is deur omgekrapte branders op feitlik dieselfde plek op die strand uitgespoel as waar die viermanskap weer die vaste aarde onder hul voete gehad het. Alf Andreas het sy weergawe gegee waar hy toegewoel in warm goed, maar steeds bewend op ’n grasperk gesit het. In daardie stadium was snye en van sy handbeserings reeds verbind.
Die bootjie het erg in die branders gerol en twee van die viertal, Alf Andreas en Johan Sales, het naar geword. Die ongeluk het gebeur toe hulle na die Mole wou terugkeer om die twee ongesteldes af te laai.
In die gespook en gespartel op die lewe het die see Alf se broek geneem en het hy hom met ’n strandhanddoek geklee. Freddie Lourens het sy weergawe gegee van ’n kabeljouvaart wat skeefgeloop het. Hy het aanvanklik aan die omgeslane bootjie geklou, maar toe ook een van die reddingsringe gebruik waaraan die ander drie mans geklou het.
Volgens hom het al vier die mans ligte beserings opgedoen en het die sterk gety hulle gehelp om die strand te bereik. Elsabé en Alecia Heymans van Rustenburg was in ’n geparkeerde voertuig op Swakopmund se sentrale strandgebied.
Mnr. Danie Heymans het gesê hy hoor iemand se krete op hulp. Toe het hulle die bootjie in die branders gesien wat diep ingerol het. Elsabé en Alecia het langs die strand opbeweeg op soek na lewensredders of toue, maar het niks gekry nie. Die perseel van die Seereddingsinstuut was ook verlate. Toe is iemand gesien wat met lewensreddingsringe ingegaan het. Toe die mans deur die gety op die strand uitgebring is, het hulle hulle te hulp gesnel met die noodhulptoerusting wat in hul motor was.
“Ek is ’n huisvrou en het nie ’n noodhulpagtergrond nie,” het Elsabé aan Republikein gesê. “Daar was mense in nood en dan help ’n mens.” Hulle het die vier drenkelinge met hul eie en ander omstanders se warm goed toegewoel en hul snye verbind terwyl op ’n oorlewingsdiens gewag is.
Volgens Elsabé was die voorval deel van hul Namibiese vakansie met Sossusvlei wat ná drie dae op Swakopmund hul volgende aandoenpunt gaan wees. Terwyl die mans versorg is, het omstanders die Arno uit die voorste branders na hoër grond gesleep.
|